’n Gebarste waterpyp het Donderdagoggend (12 Januarie) veroorsaak dat die openbare toilette in Newstraat, naby Shoprite in die Paarlse middedorp, verspoel het.
Volgens die Drakenstein-munisipaliteit sal dié toilette tydelik gesluit wees totdat die probleem opgelos is.
Die gebarste pyp het glo strukturele skade by die openbare toilette veroorsaak. Die aard en omvang van die skade is onbekend.
Everisto Stillbaum, at gesien het hoe die water in die straat afloop, sê dit het omstreeks 05:53 Donderdag gebeur. Hy het by die winkelsentrum vir sy saamrygeleentheid na sy werkplek in Kaapstad gewag toe hy gesien het hoe die pyp bars.
“Die pyp het gebars en die muur het ineengestort. Die hele taxi-staanplek en die straat tot voor by die slaghuis was vol water. Menslike afval het in die water gedryf.”
Die munisipaliteit het bevestig dat hul tegnici die skade evalueer het en verder stappe sal doen om alles so gou as moontlik te herstel.
Die publiek word gevra om intussen gebruik te maak van die toiletgeriewe by Patriotplein of in die Bergrivier Arboretum.
- A burst water pipe on Thursday morning caused the public toilets in New Street, near Shoprite in the Paarl CBD, to overflow.





