Nadat daar einde verlede jaar in die Paarl Post berig is oor probleme met die stelsels by biblioteke in Drakenstein, is dié probleem steeds nie opgelos nie.
’n Vrou van die Paarl, wat sedert 1974 van die plaaslike biblioteekdiens gebruik maak, het verlede jaar haar misnoeë uitgespreek teenoor die Paarl-biblioteek in Markstraat wat volgens haar kennis reeds van middel November verlede jaar van lyn af is.
Verlede week het nog ’n inwoner haar ontevredenheid uitgespreek oor dieselfde kwessie.
Die vrou verduidelik dat sy byna twee maande gelede by die biblioteek was en dat daar reeds ’n redelike aantal boeke nie op die rakke was nie.
“Wat ’n absolute skok was dit vandag. Ons neem ons groot sak boeke terug en die rakke is nog leër. Niks Deon Meyer nie. Niks Rudi van Rensburg nie. Geen Vita du Preez nie. Geen Chanette Paul nie. Dis boeke in reekse en daar is altyd ’n paar op die rakke.”
Volgens die inwoner is sy ook meegedeel dat geen boeke wat ingegee word op die rakke teruggesit kan word nie, want die stelsel is al twee maande lank af.
Nog ’n bekommernis is dat die skole gister weer begin het en dat baie leerders afhanklik is van die diens wat die biblioteek veronderstel is om te verskaf.
Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by Drakenstein-munisipaliteit, het verlede jaar aan Paarl Post verduidelik dat die nasionale Slims-uitleenstelsel, die biblioteek- en inligtingbestuurstelsel, sedert 15 November grootskaalse stelselprobleme ondervind.
Esau het gesê dat die stelsel deur die State Information Technology Agency (Sita) gedryf word en dat Sita besig is om dié probleem te ondersoek om dit so gou as moontlik te herstel.
Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport het in Desember in ’n brief al die munisipaliteite wat geraak word in kennis gestel dat ’n taakspan gestig is om met ’n dataherwinningsplan vorendag te kom sou die Slims-databank nie ten volle herwin kan word nie.
“Verdere besonderhede in hierdie verband sal gedeel word sodra ons die volle omvang van die dataverlies ken,” lui die brief. Die munisipaliteit sal binnekort meer besonderhede gee oor werksaamhede by die biblioteke terwyl die stelsel van lyn af is.




