’n Vroulike werknemer van ’n maatskappy binne die KWV-perseel in die Paarl, het gesterf na ’n fratsongeluk met ’n vurkhyser.Foto ter illustrasie


Gerugte van ’n fratsongeluk wat tragies die lewe van ’n vrou op die KWV-perseel in die Paarl geëis het vandag (25 Januarie), is deur die KWV bevestig.

In ’n amptelike persverklaring uitgereik deur KWV word daar bevestig dat “’n vroulike werker van ’n derdeparty-verskaffer kort na 11:30 deur ’n vurkhyser omgery is”.

“Ons glo die persoon het kort na impak aan haar beserings beswyk. Hierdie is bevestig toe die perseel-verpleegster wie vinnig op die was, geen polsslag by die slagoffer kon opspoor nie,” lui die verklaring.

Nooddienste was ook vinnig op die terrein en het haar as dood verklaar. Alle ander operasionele aktiwiteite is vir die res van die dag gestaak en personeel is huistoe gestuur.

“Ons sal verseker dat die nabye familielede van die slagoffer die nodige ondersteuning ontvang, sowel as die KWV-werknemer wat die vurkhyser bestuur het.”

Die Paarl Post het na verskeie rolspelers uitgereik ná ’n anonieme wenk van die publiek die koerant ingelig het dat ’n vrou onder ’n vurkhyser op die KWV-perseel beland en gesterf het.

KWV sê die ongeluk sal met hul volle ondersteuning deur die polisie en die Departement van Arbeid ondersoek word.

Volgens ’n betroubare bron op die perseel is die vrou glo ’n werknemer van ’n ander plaaslike verpakking-onderneming Vin de Cap wat op dieselfde perseel bedryf word.

Die Paarl-polisie se woordvoerder, kapt. Louise du Plessis, sê daar word tans ondersoek ingestel om die insident te bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article