Karmen Malan (65) is Saterdagaand (21 Januarie) in haar huis dood gevind.Foto: Facebook


’n Grusame moordtoneel in Joubertstraat, Paarl-Sentraal, is die tragiese einde tot die lewe van Karmen Malan (65) in die huis waar sy die afgelope vyf jaar alleen vertoef het.

Malan se lyk is omstreeks 21:30 Saterdagaand (21 Januarie) deur familielede aangetref te midde van ’n soektog nadat haar tuinwerker haar vroeër die dag nie in die hande kon kry nie.

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, sê met die aankoms van die polisie op die bebloede toneel is Malan se lyk met ’n oop kopwond in ’n slaapkamer aangetref.

“Die Paarl-polisie ondersoek tans die omstandighede rakende die moord op ’n 65-jarige vrou, wat in haar woning in Paarl-Sentraal vermoor is,” sê Du Plessis.

Dit is nog onseker hoe laat die slagoffer dood is, maar ’n dagblad berig Malan was in haar nagklere geklee en is in ’n byna biddende posisie met ’n skootrekenaar in haar skoot aangetref.

Haar suster Laetitia van Rooyen vertel dat haar skoonseun deur ’n oop venster toegang na Malan se huis moes kry.

“Ons is deur die veiligheidsmaatskappy ingelig dat hulle nie toegang tot die erf kon kry nie. My dogter en skoonseun is toe Paarl toe en my suster se liggaam is in die huis aangetref.”

Malan se beursie is leeg naby haar lyk aangetref, terwyl haar handsak oop gelê het en alles in die huis omgedolwe was.

Du Plessis sê ’n onbekende hoeveelheid juweliersware word vermis.

Die moordwapen is nog nie bekend nie, hoewel sy ’n oop wond tussen haar nek en linkeroor gehad het.

Beeldmateriaal van veiligheidskameras in Kloof- en Joubertstraat is intussen op WhatsApp-groepe versprei.

Die opname toon ’n verdagte persoon wat vroeg Saterdagoggend – om 04:08 – op bure van Malan se veiligheidskameras vasgevang is. Die man word gesien waar hy haastig in die straat stap met iets in sy hande wat soos ’n plastieksakkie lyk.

Hoewel alles daarop gemik is om die verdagte van die gruwelmoord op te spoor, wys sommige vingers na die Erfenis Wes-Kaap en Drakenstein-munisipaliteit weens klagtes dat die geskiedkundige bewaring van die woonbuurt se huise glo die belang van inwoners se veiligheid oortref.

’n Buurvrou langs Malan se agterplaas in Kloofstraat vertel aan Paarl Post dat hulle van die vele inwoners is wat al gesukkel het om hul erwe met hoër heinings te beveilig.

“Ons is al deur dieselfde proses met Erfenis Wes-Kaap om toestemming te kry om ons erwe se veiligheid met nuwe heinings te verskerp. Die heinings wat ons destyds wou oprig, lê nou al twee jaar op ons erf. Die Drakenstein-munisipaliteit het ons destyds in ons spore gestuit en beveel om die heining af te breek totdat ons voldoende toestemming kon verkry.”

Len Raymond van Erfenis Wes-Kaap verduidelik dat daar ’n “City Council” by die Drakenstein-munisipaliteit is wat aansoeke tot opgraderings op erwe hanteer.

“Hoewel die aard van goedkeurings gemeng is met vereistes wat betref die behoud van erfenis, is dit hoofsaaklik die rol van dié munisipale komitee om aansoeke tot veranderings op inwoners se erwe goed te keur,” verduidelik hy.

Die munisipaliteit se direkteur van beplanning en ontwikkeling, Jacqui Samson, meen egter dié permit-aansoekproses vereis slegs dat die munisipaliteit, asook die Drakenstein Heritage Foundation en Paarl 300, kommentaar lewer op só ’n aansoek.

“Die voorgenoemde kommentaar word daarna deur Erfenis Wes-Kaap in ag geneem, ten einde ’n besluit te maak in terme van die erfeniswetgewing,” sê sy.

Netwerk24 berig dat Malan onder meer ’n kankeroorwinnaar en ’n voormalige diplomaat was wat in lande soos Amerika, Botswana en België gewerk het.

“Karmen was ’n baie spesiale mens. Sy was wel belese met ’n doktorsgraad in bedryfsekonomie en LLB-kwalifikasies, en het vir jare as prokureur gewerk voordat sy in die staatsdiens was,” lui Van Rooyen se nagedagtenis.

Malan het haar lewe aan haar loopbaan, troeteldiere en ouers se versorging toegewy.

’n Gedenkdiens word Saterdag (28 Januarie) om 15:00 by haar huis in Joubertstraat 5 gehou.. Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, konst. Griffet Brown, by 021 807 4038 of 021 807 4141 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article