Steve Hofmeyr en die Taalmonument stamp tans kop.Foto:


As ’n regeringsinstelling homself die mag toeëien om kunstenaars te muilband, “haal dit slegte herinneringe uit ons verlede op”.

Só sê Wynand de Villiers van De Villiers National Cycling (DVNC), wat ’n huurkontrak aangegaan het met die Afrikaanse Taalmonument (ATM) om ’n Steve Hofmeyr-konsert aan te bied.

De Villiers sê die ATM het toe skielik maande na die ooreenkoms sy kontrak met DVNC verbreek en dit beëindig. Hy beweer dat die rede hiervoor is is dat hulle nie vir Steve by die Taalmonument wil hê nie.

Die saak is kort voor Kersfees hieroor hof toe, maar die ATM het die saak gewen.

DVNC het aangedui hy gaan teen hierdie besluit appelleer.

Intussen is die twee Steve Hofmeyr-optredes na 4 en 5 Februarie op Welbedacht – Schalk Burger en Seuns – in Wellington verskuif.

“In ons vorige bestel het die regering ook met die kunste ingemeng toe verskeie oorsese en plaaslike kunstenaars se musiek en toegang tot optredes in Suid-Afrika geweier is, en dis insiggewend hoe die geskiedenis hom herhaal,” het De Villiers in ’n verklaring op sosiale media gesê.

Hy het verder in die verklaring geskryf:

“Steve en alle kunstenaars se reg om op te tree moet gerespekteer word. Die monument se weiering van Steve is hartseer veral in die lig van sy reusebydrae tot Afrikaans en sy aanhangers, wat die meeste is van enige Afrikaanse kunstenaar en waarvan die meerderheid Afrikaanssprekend is.

“Baie Suid-Afrikaners voel hy sê wat baie ander te bang is om te sê, en waaroor ernstig besin moet word – soos wat kunstenaars deur die jare heen al doen met kommentaar op ons samelewing.

“Ons het hoop in hierdie land, en benewens Suid-Afrikaners se ongelooflike ingebore positiewe gesindheid en deursettingsvermoë is dit ook te danke aan kunstenaars soos Steve Dít gee mense hoop; dat daar steeds Afrikaners is wat bereid is om hulself en hul stem te laat geld, ondanks die risiko van verbanning of verdoeming.

“Dit is ontsettend belangrik in ’n land wat deesdae elke nou en dan lyk of dit op die randjie van die afgrond wankel.

“Midde-in chaotiese bestuur deur ’n regering wat nie meer gemiddelde Suid-Afrikaners se swaarkry raaksien of belange vooropstel nie, is iemand soos Steve ’n onmisbare skakel in die ketting van verantwoordbaarheid.

“Steve en die optredes by Welbedacht vergestalt hoop en ’n Suid-Afrikaanse nasie vol lewe [en] durf, en wie nie skroom om hul sê te sê wanneer hul geliefde land en sy mense verniel word nie. Dis vryspraak, en dis ons almal se reg.

“En Steve raak al hoe meer relevant soos die situasie in die land bly vererger.

“Hy is ’n baken van hoop vir baie, en die feit dat hierdie konserte tydens ’n volgehoue ongenaakbare tyd vir ons land steeds kan voortgaan, is vir seker hoopvol en tiperend van die deursettingsvermoë van Suid-Afrikaanse sakelui en kunstenaars.

“Steve is lief vir sy land en sy mense, lief genoeg om onwrikbaar aan te hou baklei en om die regering se flaters en sosiale en ekonomiese onregte aan die kaak te stel; onregte wat almal beïnvloed, nie net wit, bruin of swart Afrikaners nie.

“Almal is slagoffers van regeringsbedrog, kraggebrek, misdaad, armoede, ens… “Al die uitdagings wat die gevolg is van ’n onbeholpe regering, swak ekonomiese bestuur, diskriminering, bedrog, diefstal en marginalisering,” sluit die verklaring af.. Kaartjies vir die konserte is beskikbaar by itickets.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article