Die kranige rolbalspeler Delene Murray (92) wat al langer as 42 jaar rolbal speel. Foto: Wynand Viljoen


Op die ouderdom van 92 is die kranige rolbalspeler Delene Murray ’n ware voorbeeld dat jy nie ’n ouderdomsbeperking op jou drome moet plaas nie.

Sy speel reeds 42 jaar lank rolbal en is steeds doenig op die baan.

Haar resep om ’n lang en gesonde lewe te lei, sê sy, is om elke dag nege droë papajapitte te eet.

Delene het sedert 1981 as die finansiële beampte by die Metropole Hotel in die Strand gewerk. Sy het einde Maart 1992 afgetree en speel sedertdien voltyds rolbal.

“Ek en my ma het in Oktober 1981 by die Strand-rolbalklub aangesluit, waar ek my rolballoopbaan amptelik begin het,” sê sy.

“Ek het ’n tweedehandse stel balle vir R97 by ’n tannie wat in dieselfde woonstelblok as ek gewoon het, gekoop. Ek speel vandag nog met dieselfde stel balle.”

Delene het deur die jare aan verskeie kompetisies deelgeneem. Een kompetisie wat vir haar uitstaan, is die All Cape Bowls, ’n rolbaltoernooi wat elke vierde jaar in Kaapstad plaasvind.

“Klubs van oor die land heen neem hier deel, en hierdeur het ek oor die jare baie goeie ondervinding opgebou,” sê sy.

Rolbal was in die vroeër tagtigerjare ’n sport wat streng reëls vir kleredrag gehad het. Vrouespelers moes lang rokke met ’n bont trui dra.

“Elke Saterdag moet jou kleredrag wit wees, insluitend ’n wit hoed.”

Sy sê dinge het ’n bietjie verander, maar die sport bly dieselfde.

Murray was nog altyd aktief en het op skool as doelwagter hokkie gespeel.

Nadat sy matriek voltooi het, het sy en haar familie na Gqeberha verhuis, waar haar passie vir rolbal ontstaan het. Dit is daar waar Murray haar man, Johan, ontmoet het.

Die president van die Paarl-rolbalklub, Wynand Viljoen, sê Murray geniet die sport en sy is as kaptein van haar span aangewys.

Volgens Viljoen is Murray altyd in beheer van die span en het sy die vermoë om tot die laaste bal te speel.

“Sy is werklik ’n besondere vrou en die oudste lid van die klub,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article