Eddie Buxman (65) sê sy honde het van blydskap getjank toe hul “pa” uiteindelik weer by die huis aangekom het.Foto’s: Eduanne Niemand

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

Die Kaapse kobra-slagoffer Eddie Buxman (68) is Maandag met net nege van sy vingers huis toe nadat ’n slinkse slang sy linkerwysvinger geëis het.

“Ek het die chirurg Maandagoggend gevra om my vinger te help red aangesien ek dit nog kan gebruik. Maar hoe meer ek daaroor getob het, het ek besef, ek wat in die stof en sweet boer, gaan nie met ’n ellendige vinger klaarkom nie.

“Toe ek later die aand in die teater kom, sê ek vir die chirurg ‘ek change my mind – sit hom af en kry klaar, dat ek by die huis kan kom’,” sê die brawe Buxman.

“Kyk, ek vang al vir jare slange op my plaas, maar dié keer het ek myself ’n bietjie misgis . . . die kobra het sy kop vinnig gedraai en my op my vinger gekap!”

Só onthou hy die lewensgevaarlike voorval op 16 Januarie in sy seun se huis se hoofslaapkamer op die Burgersdrift-familieplaas op die R44 buite Wellington.

“Ek is nie bang vir slange nie,” sê hy en verduidelik dat hy veel eerder ’n slang sal probeer vang voordat hy een sal doodmaak.

Die uiters giftige Kaapse kobra het eers sy aanstaande skoondogter, Luzann, die skrik op die lyf gejaag toe sy om 20:45 ’n kragprop uit die muur wou trek en die slang skielik verby haar seil.

“Sy en die honde het toe só histeries tekere gegaan dat ek vinnig gaan help het. Ek het dadelik die snoekerstok gegryp om die slang in ’n hoek vas te druk en hom sodoende aan die stert te probeer optel. Die slang het egter uit die slaapkamer geseil en is deur ’n doggy trap na buite.”

Buxman is agterna en het die slang op die voorstoep met die snoekerstok in die hand vasgetrap.

“Hy het my op die hand gepik toe ek hom in die tuin geslinger het.”

Buxman se seun het dadelik Eduanne Niemand van Boland Snake Removals 24/7 gebel en hom oor die noodgeval ingelig.

“Die eerste ding wat ek gedoen het, is om die gif uit my vinger te melk en te suig terwyl ek ’n das om my hand gebind het. Dit het gehelp om te keer dat die gif na die res van my liggaam versprei.

“Dit het my bas gered!”

Niemand het gesê hulle moet hulle na die Mediclinic Paarl haas, waar hy hulle sal inwag.

Hy het toe Buxman se besonderhede voorlopig by die hospitaal geregistreer sodat behandeling vinniger kon geskied.

“My seun het my met ’n Epipen op die plaas ingespuit. By die hospitaal het die dokters my twee dosisse teengif ingespuit om die effek van die dodelike gif af te weer.”

Buxman onthou dat die sig in sy linkeroog begin verswak het, wat beteken dat die gif sy senuweestelsel begin aantas het.

Hy was vier dae later steeds in die hospitaal en het gesê hy voel goed “behalwe vir my hand wat ’n bietjie afchop van die pyn”.

“Ek het in my hele lewe nog nooit sulke intensiewe pyn beleef soos met dié slang se pik nie.”

Hy is in die waakeenheid versorg totdat hy verlede Woensdagaand na die algemene sorgeenheid oorgeplaas is.

“Die storie het ’n mooi einde, ook so te danke aan Eduanne, wat met sy kennis gehelp het om my lewe te red. Hy was byna elke dag by my in die hospitaal.”

En wat het toe van die Kaapse Kobra geword?

“Ek het die bliksem mos in die tuin geslinger en toe nie weer gesien nie. Hy sal seker weer terugkom, maar Eduanne het die huis met ’n afweermiddel gespuit, wat glo keer dat slange daar sal wil beweeg.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post Medical Guide – 30 April 2026
    Credit: Heleen Smit Credit: Heleen Smit

Gift this article