“Onderwys is die kragtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander,” het oudpres. Nelson Mandela gesê.
Dis vanjaar 30 jaar sedert Mandela vrygelaat is en die land ’n nuwe politieke bestel betree het. Is ons onderwysstelsel inderdaad die bemagtigingsinstrument wat hy in die vooruitsig gestel het?
Om dié vraag te beantwoord moet ’n paar ander vrae gestel word.
Waarom is daar byvoorbeeld steeds ’n groot verskil tussen die uitslae van die onafhanklike skole (IEB) en dié van die staatskole?
Waarom is daar steeds ’n reusagtige gaping tussen ryk en arm skole?
Waarom moet leerlinge in townships en op die platteland steeds soveel berge uitklim en riviere oorsteek (letterlik en figuurlik) om net aan die basiese vereistes vir skoolgaan te voldoen?
En het die onderwysstelsel dit in 30 jaar reggekry om geslagsgelykheid en armoede te verbeter?
Ongelykheid, armoede en geweld is juis van die redes waarom een derde van die leerlinge wat hul skoolloopbaan in 2011 begin het nie die eindeksamen in 2022 gehaal het nie.
Boonop moes verlede jaar se matrieks met van die uitdagendste omstandighede worstel, waaronder:
. Die Covid-19-pandemie en gevolglike veranderings aan die leerplan om agterstande in te haal, bykomend tot ’n rotasiestelsel en ’n aanpassing by aanlyn leer, waarvoor die meeste skole nie gerat was nie;
. Die dood van geliefdes weens Covid-19;
. Beurtkrag; en
. Gebrekkige dienslewering.
Teen dié agtergrond is die slaagkoers van 80,1% (teenoor verlede jaar se 76%) prysenswaardig. Wat hierdie 775 630 matrieks vermag het, grens aan ’n pedagogiese wonderwerk. Hulle, hul ouers en onderwysers verdien al die lof wat na hul kant toe kom.
Tendense
. Die twee toppresteerders in die land, Kelly Prowse van Rustenburg Girls’ High School in Kaapstad en Husnaa Haffejee van die Al Falaah College in Durban, kan ’n aanduiding wees dat die gety – wat geslagsgelykheid betref – begin draai. Verder was 56,2% van die matrieks wat die eksamen geskryf het meisies, teenoor die 43,8% seuns. Om een of ander rede kom meer meisies deur die stelsel as seuns. Dalk is dit ’n teken van die emansipasie van skoolmeisies wat besef onderwys is hul enigste kans om van geslagsongelykheid te ontsnap.
. Verreweg die meeste leerlinge in matriek is 18 jaar oud. Hulle is dus op sewejarige ouderdom skool toe. Die tweede meeste matrieks (maar heelwat minder) is 19 jaar oud in matriek (en is om opvoedkundige redes waarskynlik een jaar teruggehou) en 17-jariges is in die derde plek.
. Nie net die slaagkoers trek jaarliks aandag nie, maar ook die vraag hoeveel leerlinge wat aangemeld het vir gr. 1 uiteindelik tot in matriek deurgevloei het. Die Vrystaat, wat met 88,5% die hoogste slaagkoers in die land het, is ook die provinsie met die swakste deurvloeikoers (58,5%). Die hoogste deurvloeikoers (70,5%) is in die Wes-Kaap gemeet.
. Die prestasie van leerlinge in KwaZulu-Natal, waar ’n slaagkoers van 83% behaal is, is merkwaardig gegewe die vloede wat die provinsie verlede jaar getref het.
. Terwyl niemand kan ontken hoe goed Afrikaanse skole weer presteer het nie, is dit onrusbarend dat die aantal matrikulante wat Afrikaans as eerste taal neem die afgelope vyf jaar deurlopend gedaal het. Boaan die lys vir tale is Zoeloe, gevolg deur Engels, Xhosa, Pedi, Sotho en dán eers Afrikaans. Die grootste toename was in die aantal leerlinge wat Engels neem – ’n moontlike aanduiding dat die samelewing verengels.
. Die aantal matrieks wat tegniese vakke geneem het, het aansienlik gestyg. Dit gee nie net ’n hupstoot aan die land se vaardigheidsvlakke nie, maar bied ’n kortpad na werksgeleenthede om jeugwerkloosheid teen te werk.
Gehalte van uitslae
Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, het 2022 se uitslae as geldig gesertifiseer.
’n Goeie aanduiding van die gehalte van die uitslae is die aantal matrieks wat slaag met vrystelling vir studies vir ’n baccalaureus-graad. Dié syfer het sedert 2015, toe dit 25% was, gestyg tot 36,4% in 2021 en 38,4% in 2022.
Van groot belang is die styging in die gehalte van die slaagkoers by kwintiel 1- tot 3-skole, wat die armste skole in die land is. Voorts vergelyk universiteitstoelatings by kwintiel 1-skole (52 000) en kwintiel 3-skole (54 000) baie goed met dié van kwintiel 5-skole (60 551).
Wat onderskeidings betref, gee die Wes-Kaap die toon aan met 6,2% van matrieks wat onderskeidings behaal het, teenoor KwaZulu-Natal se 6%, Gauteng se 4,5% en die Vrystaat se 3,3%.
Meer as hulpbronne
Daar sal altyd gevra word waarom die onafhanklike skole (IEB) se slaagsyfer (98,4%) soveel hoër is as dié van staatskole. Afgesien van die ooglopende verskil in hulpbronne en geriewe is daar baie faktore wat hierin ’n rol speel.
Dit sou onbillik wees om die prestasies van die onafhanklike skole te verskraal tot die feit dat dié leerlinge hulself in ’n bevoorregte posisie bevind. Ongeag die aantal hulpbronne waaroor ’n skool beskik, het jy steeds toegewyde personeel en bestuur nodig om te verseker dat die hulpbronne reg aangewend word.
Daarteenoor is dit ’n ope vraag of die departement van basiese onderwys daarin slaag om die gebrek aan basiese geriewe, oorvol klaskamers wat weer lei tot dissiplinêre probleme, en die gebrek aan leierskap doeltreffend te hanteer.
Daar is baie staatskole wat met baie min hulpbronne uitstyg en doeltreffende onderrig aan leerlinge bied. Die rol wat die ouers speel, is telkens deurslaggewend in hierdie skole se sukses.
Wat ook al die situasie, die dae dat skole, die regering en individue die vinger na apartheid kan wys, is verby. Die Klas van 2022 is juis ’n voorbeeld vir baie politici wat steeds staatmaak op die retoriek van die verlede. Dis tyd dat diegene wat nog verskonings soek om hul eie onvermoë en gebrekkige werksetiek te verbloem introspeksie doen en ’n bladsy neem uit dié matriekgroep se handboek.
Dat die Klas van 2022 ondanks al die terugslae wat hulle te bowe moes kom steeds ’n slaagsyfer van 80,1% kon behaal, spreek boekdele vir dié generasie se wil om te presteer, hul onderwysers se toewyding en die visioenêre leierskap van beheerliggame.
Wat ook al die situasie, die dae dat skole, die regering en individue die vinger na apartheid kan wys, is verby.
. Hierdie rubriek het eers verskyn op Netwerk24




