Die ondersoek na wat die stink reuk in die lug veroorsaak oor Paarl en Wellington is afgehandel deur die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM). En daar is vasgestel dat die geweldige stank wat vanaf Wellington tot in Paarl-suid geruik word, afkomstig is vanaf ’n smeulende brand in die vuilwaterdamme by die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg.
Jo-Anne Otto, woordvoerder vir die KWDM, het vanoggend (2 Februarie) gesê dat hul bevindings oorhandig is aan die Drakenstein-munisipaliteit. Volgens Otto was daar slegs twee voorvalle gedurende Januarie waar reuke moontlik deur die krematorium veroorsaak is. “Dit was die voorval op 7 Januarie (soos voorheen berig) en op 20 Januarie toe die krematorium owerhede gewaarsku het oor die moontlikheid van gasse wat vrygestel word. Daar is gevind dat die krematorium waarskynlik nie die oorsaak is op enige van die ander aande wat stink reuke aangemeld is nie, aangesien dit toe nie in werking was nie.”
Drakenstein het gister in ’n verklaring op hul Facebook-blad genoem dat KWDM verantwoordelik is vir die monitering van luggehalte in die distrik. Otto het dit dus duidelik gemaak dat KWDM net verantwoordelik is om gelyste aktiwiteite te monitor – dit sluit in die krematorium en die steenwerke.
Die KWDM se ondersoek het verder bevind dat die stink reuk wat inwoners al vir die afgelope maand teister, se oorsprong is die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg.
“Die hoofoorsaak van die reuke is die aanhoudende smeulende brand in die vuilwaterdamme wat langs die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg geleë is. Dit word vererger wanneer die weerstoestande ’n inversie skep, en die reuke word vasgevang eerder as om natuurlik te versprei, soos die geval was die naweek van 27 Januarie,” sê Otto.




