Met net ’n bietjie meer as ’n week voor die begin van die grootste vroue-sportbyeenkoms nog in Afrika – die IKR-vroue-T20-Wêreldbeker – verkoop kaartjies hiervoor soos soetkoek.

Inwoners van die Drakenstein kan die aksie eerstehands geniet – die Paarl se Bolandpark is een van die stadions wat die reeks sal akkommodeer.

Die 10 beste vroue-krieketspanne ter wêreld reis hierheen en die aksie begin op 10 Februarie wanneer Suid-Afrika in die openingswedstryd op Nuweland in Kaapstad teen Sri Lanka te staan kom.

Aanhangers kan nou reeds kaartjies koop vir die 23 wedstryde wat oor 15 dae in Kaapstad, die Paarl en Gqeberha gespeel word.

Die wêreld se beste vrouekrieketspelers sal die middelpunt wees vir ’n unieke Afrika-viering van krieket, wat uitloop op ’n eindronde-naweek by die Nuweland-krieketveld, waar die wenner Sondag 26 Februarie gekroon sal word.

Kaartjiepryse begin by R60, met leerders en pensioentrekkers wat afslag kry. Gesinne kan die meeste van die toernooi maak aangesien kinders jonger as ses gratis toegang geniet.

Bangladesj en Ierland rond die lys deelnemende spanne af en sluit aan by Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Suid-Afrika, Sri Lanka en die Wes-Indiese Eilande in die agtste weergawe van die Vroue-T20-Wêreldbeker, wat ’n skouspelagtige viering van krieket vir almal sal wees.

Bolandpark se T20-Vroue-Wêreldbeker-rooster is:

11 Februarie

15:00 – Wes-Indiese Eilande t. Engeland

19:00 – Australië t. Nieu-Seeland

13 Februarie

15:00 – Ierland t. Engeland

19:00 – Suid-Afrika t. Nieu- Seeland

19 Februarie

15:00 – Pakistan t. Wes-Indiese Eilande

19:00 – Nieu-Seeland t. Sri Lanka

Die halfeind- (24 Februarie) en eindronde (26 Februarie) word op Nuweland in Kaapstad gespeel.. Kaartjies is nou reeds te koop by https://womens.t20worldcup .com/tickets

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article