’n Swanger vrou wat glo Maandag “verdrink” het, was toe al die tyd lewendig en word in die Paarl-hospitaal behandel.Foto: Anan Jacobs


Talle Paarliete het Maandag kopgekrap toe bevind is dat ’n vrou wat vermoedelik in die Bergrivier in die Paarl verdrink het, nog leef.

Bowendien het nooddienste bevind die vrou het nie net ’n noue ontkoming in die Bergrivier oorleef nie, maar sy is ook swanger.

’n Woordvoerder vir die nooddienste, Byron La Hoe, bevestig hulle het Maandagoggend om 10:14 ’n noodvoorval van Drakenstein-wetstoepassing ontvang oor ’n vroulike pasiënt wat in die rivier naby die taxi-staanplek in die Paarl gedryf het.

“Volgens hulle het dit gelyk of sy dood is. Wetstoepassing Drakenstein het weer om 10:18 die nooddienste-sentrum gekontak en hulle verwittig dat die pasiënt nog leef en ook swanger is,” sê La Hoe.

Paarl Post het vroeër berig die lyk van ’n vrou is vroeg Maandagoggend deur reddingswerkers naby die keerwal in die Bergrivier verwyder. Ons het aanvanklik berig die vrou het vermoedelik verdrink.

Maar volgens ’n reddingswerker wat op die toneel was, was die vrou “al met die ambulans se aankoms uit die rivier verwyder en was sy nog by haar bewussyn”.

“Ons het haar in die ambulans op pad hospitaal toe behandel.”

Sy is in ’n kritieke toestand vir verdere behandeling na die Paarl-hospitaal geneem.

Omstanders op die toneel sê die vrou, wie se identiteit nog nie aan Paarl Post bekend is nie, het glo om 10:00 self van die trappies by die keerwal tot in die water gegaan.

Brian Alley, die eienaar van ’n bekende gastehuis aan die oewer van die Bergrivier, sê hy het die vrou die water sien in loop.

“Ek het haar self sien inklim en het gedink iets is nie lekker nie.

“Ek is toe terug na die gastehuis en my werkers gevra om haar dop te hou.

“Ek en my werkers het net ’n paar minute later gesien hoe die vrou in die rivier af dryf.

“Dit het gelyk asof haar een arm nog beweeg het.”

Alley het verbygangers langs die rivier geroep om bystand te lewer. Die vrou was toe reeds sowat 600 m vanaf die keerwal af.

Hy sê hoewel die meeste omstanders huiwerig was, was een man braaf genoeg om in die rivier te spring en die vrou tot by die oewer gebring het.

“Intussen het ek die voorval by wetstoepassing aangemeld, wat toe die polisie en nooddienste na die toneel ontbied het.”

Alley bestuur sy gastehuis aan die oewer van die Bergrivier vir die afgelope 18 jaar en sê hy het oor die jare al minstens 28 mense hier in die rivier sien sterf.

“Ek het ook al hope briewe en pleidooie aan owerhede gerig om behoorlike omheining by die keerwal van die rivier aan te bring,” vertel Alley moedeloos.

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, sê aangesien die vrou nog leef, sal die voorval verder deur nooddienste hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article