Inwoners van die Drakenstein-vallei kla al weke lank oor ’n geweldige verstikkende stank wat oor die vallei hang. Daar is nou eers vasgestel dat die bron van die brand ’n veldbrand is wat tot by die vuilwaterdamme versprei het. Foto: Drakenstein-munisipaliteit


Die stink reuk in die lug waaroor Paarliete en Wellingtonners vir ’n geruime tyd al kla, kom van ’n smeulende brand by die vuilwaterdamme by die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg.

Dit is volgens ’n ondersoek wat gedoen is deur die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM). Die geweldige stank het inwoners van Wellington tot in Paarl-Suid geteister.

Jo-Anne Otto, woordvoerder van die KWDM, het verlede Donderdagoggend (2 Februarie) gesê hul bevindings is aan die Drakenstein-munisipaliteit oorhan­dig.

Hoewel die krematorium aanvanklik deur inwoners blameer is vir die stink reuke, sê Otto dat daar slegs twee voorvalle gedurende Januarie was waar reuke moontlik deur die krematorium in Dal Josafat veroorsaak is.

“Dit was die voorval op 7 Januarie (soos voorheen berig) en op 20 Januarie toe die krematorium owerhede gewaarsku het oor die moontlikheid van gasse wat vrygestel word. Daar is gevind dat die krematorium waarskynlik nie die oorsaak is op enige van die ander aande wat stink reuke aangemeld is nie, aangesien dit toe nie in werking was nie.”

Drakenstein het verlede week in ’n verklaring op sy Facebook-blad genoem, wat sedertdien verwyder is, dat die KWDM verantwoordelik is vir die monitering van luggehalte in die distrik.

Otto het dit dus duidelik gemaak dat KWDM net verantwoordelik is om gelyste aktiwiteite te monitor – dit sluit net die krematorium en die steenwerke in.

In die KWDM se ondersoek is verder bevind dat die stink reuk wat inwoners al vir die afgelope maand pla se oorsprong die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg is.

“Die hoofoorsaak van die reuke is die aanhoudende smeulende brand in die vuilwaterdamme wat langs die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg geleë is. Dit word vererger wanneer die weerstoestande ’n inversie skep, en die reuke word vasgevang eerder as om natuurlik te versprei, soos die geval was die naweek van 27 Januarie,” sê Otto.

Jacqui Samson, Drakenstein se uitvoerende direkteur van beplanning en ontwikkeling, sê in ’n verdere ondersoek deur Drakenstein-munisipaliteit is bevind dat ’n veldbrand wat tot by die vuilwaterdamme versprei het moontlik tot die haglike reuk bygedra het.

“Toe dit onder die munisipaliteit se aandag gekom het, is die brandweer-spanne dadelik ontplooi om die brand te blus – eers deur duisende liters water op die oppervlak te spuit en later deur ’n laag skuim aan te wend wat as ’n benattingsmiddel opgetree het wat diep in die damme in geabsorbeer word. Nadat die vuur en rook voortgeduur het (meestal smeulend onder die oppervlak van die damme), het die munisipaliteit se brandweerdienste metodes uitgedink om die brand onder die oppervlak te blus. ’n Graafmasjien is ook ingespan om die area oop te maak – tot op die laagste vlak – om te verseker dat daar geen gevaar is dat die vuur sal opvlam nie.”

Samson het bevestig dat die brand geblus is en dat die plaaslike brandweerdienste die situasie monitor ingeval die brand weer sou opvlam. Sy het verder bygevoeg dat die munisipaliteit die “nodige maatreëls” in plek gestel het om te voorkom dat enige stink reuke versprei.

Dit is egter nie duidelik wat die maatreëls behels nie.

Drakenstein en KWDM het ook op 1 Februarie vergader met amptenare van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning om nog moontlike bronne van die stink reuk te bespreek.

  • The terrible stench in the air that Paarlites and residents of Wellington have been complaining about for some time comes from a smoldering fire at the sewage ponds at the Wellington wastewater treatment plant.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article