Hoe lui die gesegde nou weer? Oudword is nie vir sissies nie.
Wel, die twee onderwerpe waarmee die meeste van ons op die een of ander tyd gekonfronteer sal word, is oudword en die dood. Kom wat wil, die twee sal ’n draai by jou deur kom maak – eersgenoemde as jy gelukkig is en laasgenoemde jou nie op ’n jeugdige ouderdom van die hier en nou kom wegneem nie.
Dit was nog altyd vir my fassinerend om byvoorbeeld die proses van oudword by my dierbare ouers waar te neem. Jaar ná jaar gewaar jy hoe hul kragte minder en minder word. Jy troos jou daaraan dat dit maar die verloop van die lewe is en dat jy darem nog dankbaar is dat hulle nog hier is, want soveel ander mense het nie meer die voorreg om ’n ma of ’n pa te hê nie. En natuurlik sal my nou- en onthou-oomblikke gevul wees met die grootste respek, agting, waardering en liefde vir alles wat hulle vir my opgeoffer het. Die mense wat my ouers ken, sal kan getuig van die kaliber mense wat hulle is – waardig, liefdevol, hardwerkend, omgeeharte vir hul naaste, Godvresend en nederig van hart en gesindheid, om maar net ’n paar karaktereienskappe te noem.
Dis daai dag toe ek moes vrede maak dat ’n pilletjie hier en daar die knoop sal moet deurhak vir ’n ekstra klompie jare by die huidige, dat ek besef het dat my paadjie kort op die hakke van Pa en Ma ’n harde werklikheid is. Ook daai dag toe die verdomde lettertjies in die boek wat ek besig was om te lees, net nie meer so lekker vlot kon lees soos vroeër jare nie. Kyk, toe weet ek, dis sulke tyd vir my ook – pille-en-brille- tyd. Ja, en jy wat nou hier lees en my uitlag – jy is nog in jou bokspring twintigs. Lag dan maar bo uit, maar moenie sê ek het jou nie gesê dat jou tyd ook sal kom nie.
Net voor jy te lekker kry vir my brille-en-pille-jare, wil ek jou darem ook net herinner dat ek reeds was waar jy nou is. So, ek verstaan.
Van oud wees en voel voor my tyd kan jy egter vergeet. Kom nooi my uit vir ’n lekker paar akkeltjies op die dansbaan en ek wys jou waar Dawid daai wortels loop grawe het. Nee, kyk, ek was en is ’n yster op die dansvloer! My voetspore lê diep getrap tot in Lady Greystraat in die Paarl. Hoe so? Die einste pa en ma van my was en is mense met ’n lus vir die lewe – kon werk, lag en kuier dat dit skoon aansteeklik is. Ek wil daai voorbeeld volg as ek dan met die volgende tien jaar in my lewe moet vrede maak. Lig en lekker! Ek meen maar, die twee van hulle het pleinweg verseg om ’n ouderdomstoelaag van die regering te aanvaar, want vir wat as hulle dan nog kan werk en blakend gesond is? Wat ’n skreiende kontras met hoe sommige bloedjong mense verkies om in ’n lang ry te loop staan vir ’n paar rand uit die regering se beursie.
Nee wat, laat my eerder oud word soos die omie wat op tagtig nog deelneem aan elke straatwedloop wat iewers op ’n Saterdagoggend aangebied word, of die vriendin wat nou die dag sestig geword het en nie ’n dag ouer as vyf en veertig lyk nie; wat vreugde vind in al die lekker dingetjies in die lewe, soos om byvoorbeeld ’n hele skaapskenkeltjie kaf te draf, want die lewe is te kort om jou te verknies oor daai ekstra rolletjies om die heupe. En in daai ry te loop staan vir ’n senior aalmoes? Nee wat, daai ry sal haar seker eers hier teen die middel sewentigerjare sien, want die werksywer en lus vir die lewe is nog daar. En daai volgende trip oorsee moet nog afgetiek word. Voeg daarby al die lekker-eet-oomblikke wat nog saam met familie en vriende gedeel moet word.
My respek aan die mense wat ’n ander perspektief oor die saak van oudword huldig. Glo my, ek het al baie hiervan gesien – daai arme siele, wat nou maar eenmaal net nie kan ophou kla oor die lysie kwale wat elke week tevoorskyn kom nie; vir wie ’n besoek aan ’n kliniek, hospitaal of huisdokter die hoogtepunt van hul week is nie, of wat pleinweg net bejammer wil word vir hul meerjare en eintlik net sit en wag vir daai oomblik dat die doodsengel sy opwagting moet maak.
My innige simpatie, maar die ekke is nog net te vol lewe dat ek vir ’n pil of bril sy laaste sê sal gee. Ook bygesê, ek maak vrede met die jare wat aanstap en gedra my dienooreenkomstig, want, o liewe tyd – het jy al ’n senior burger gesien wat hom of haar soos ’n tiener gedra? Ja, dié kry ’n mens ook.
Wag, laat ek my tekkies gaan aantrek vir my volgende tien-kilometer-draf.
Veertig my nou. Tagtig my later!




