’n 17-jarige meisie van Gouda is Sondagmiddag oorlede nadat sy vermoedelik deur ’n Kaapse kobra gepik is.
Samantha van der Ross het tydens die voorval saam met vriende in ’n veld naby die Klein Bergrivier buite die dorp gaan stap.
Samantha se pleegouer, Hester Fransman van Bakerville Primêr, het gesê die kobra het Samantha aan die hand gepik.
Die ambulans is dadelik ontbied, maar het eers ná ’n geruime tyd daarna daar aangekom.
Dit was te laat en Samantha is met die nooddienste se aankoms op die toneel dood verklaar.
Volgens inligting is daar tans ’n tekort aan slangserum en is dit plaaslik net by Mediclinic Paarl beskikbaar.
Die voorval kom skaars weke nadat ’n bekende Wellingtonse boer, Eddie Buxman van die plaas Burgersdrift tussen Hermon en Wellington, ook deur ’n Kaapse kobra gepik is. Buxman het egter vinnig opgetree en behandeling vir die slangbyt gekry.
Hy het wel sy vinger, waar die slang hom gepik het, verloor, maar verder taamlik ongeskonde van die voorval afgekom.
Toe Buxman Dinsdag oor sy pad na herstel gesels, het hy sy spyt oor die tienermeisie se dood uitgespreek. “Dit maak my die genade dat ek skotvry van my slangbyt afgekom het, waardeer.”
Hy ervaar wel oomblikke van mismoedigheid in die afwesigheid van sy linkerwysvinger. “Die been waar die vinger afgesit is, is nog baie gevoelig. Hoewel dit steeds ’n aanpassing bly, ervaar ek minder pyn.”
Buxman is ook weer volstoom aan die werk op sy plaas – “ek laat loop!”





