’n Inwoner van die Vrykyk-woonbuurt in Paarl is woedend nadat sy geliefde kat, Peanut, vergiftig en met ’n windbuks geskiet is.
Etienne Smith vertel hartseer dat Peanut Saterdag dood is nadat ’n veearts by ’n dierehospitaal alles probeer het om hom te red.
Smith en sy lewensmaat het sowat ses jaar gelede die gemmer-en-wit kat aangeneem nadat hul bure by wie die kat aanvanklik gewoon het, verhuis het.
“Peanut het rondgeloop, hy was ’n buurtkat. Die betrokke dag het hy glad nie huis toe gekom nie en ons het rondgekyk vir hom. Almal weet ’n kat dwaal in ’n radius van ongeveer 400 meter, so dit is iemand in die omgewing wat dit aan hom gedoen het.”
Smith sê hulle was Vrydagaand bietjie uit en met hul terugkeer huis toe het hulle vir Peanut in Draaistraat gekry waar hy op die sypaadjie gesit het. Volgens Smith het Peanut gewoonlik by ’n ander kat in Draaistraat gekuier.
“Ons het hom ingevat en in die kamer by ons gehou, want hy het regtig glad nie lekker gelyk nie en wou glad nie eet nie. Deur die nag het by begin opgooi en sy toestand het versleg. Saterdagoggend het sy toestand net verder versleg en my lewensmaat het vir Peanut na die dierehospitaal geneem. Daar het die veearts X-strale geneem en agtergekom daar is drie windbuks-koeëls binne-in die kat.
“Hy is drie keer geskiet met ’n windbuks en vergiftig. Dit is onmenslik en dit is iemand in ’n radius van omtrent 400 meter om my.”
Smith vertel hartseer dat hy Saterdagmiddag sy geliefde Peanut, wat soos ’n kind vir hom was, by die dierehospitaal moes gaan groet.
“Kort nadat ek hom vir oulaas gaan groet het en weg is, het hy gesterf. Ek kan nog die vergiftigingstorie kleinkry, want jy kry idiote daar buite, maar drie keer geskiet met ’n windbuks in ’n residensiële gebied is malligheid.”
Smith sê hy wag nog vir die veearts se rekening, maar maak hom gereed dat dit ’n stewige bedrag gaan wees.
Dit is teen Drakenstein se munisipale regulasies om in ’n woongebied met ’n windbuks te skiet en om ook diere te vergiftig.
Indien bure se diere ’n probleem is, kan dit aangemeld word by plaaslike wetstoepassing wat die situasie op ’n paslike manier sal hanteer. Hul kontaknommer is 021 807 4500.
- A resident of the Vrykyk residential area in Paarl is heartbroken and furious after his beloved cat, Peanut, was poisoned and shot three times.





