’n See van blou. Boishaai-leerders op die paviljoen by Dal Josafat-stadion waar hulle hul atlete by die Prestige-atletiekbyeenkoms goed ondersteun het.Foto’s: Ernest Kilowan
Die meisies van Girls’ High het gesorg dat hulle hul atlete bly aanpor in hul skool se skitterende oorwinning by vanjaar se Prestige-atletiekbyeenkoms by Dal Josafat-stadion.Foto: EJ Langner
Die seuns o.17-hekkiesatlete hardloop kop-aan-kop oor die hekkies.
Die seuns o.17-langasems hardloop in die 1 500 m wat deur Matthew Jordaan gewen is.
Girls’ High se Kayla le Roux het die o.14-verspringrekord vir meisies by die Prestige-atletiekbyeenkoms laat spat.
Lisa Ahrens seil oor die dwarslat in die meisies o.19-hoogspring en wen met ’n hoogte van 1,65 m.
Nikus van Coller van Gimnasium het die seuns o. 19-paalspring gewen by die Prestige-atletiekbyeenkoms.
Hoërskool Gimnasium se ondersteuners staan bankvas agter hul atlete by die Prestige-atletiekbyeenkoms.
’n Blou-en-groen gety het weer Dinsdag oorheers by die Dal Josafat-stadion in die Paarl, toe die Hoër Jongenskool en Hoër Meisieskool Paarl by die jaarlikse Prestige-atletiekbyeenkoms geseëvier het.
Hierdie besonderse skoleatletiek-geleentheid sien die top-Bolandse skole, Boishaai, Girls’ High, Paarl Gimnasium, Paul Roos en Bloemhof, in aksie teen mekaar op die atletiekbaan. Boishaai en Girls’ High wen met ’n puntetotaal van 955, Paarl Gim volg met 894 en Bloemhof en Paul Roos 823.
In die onderskeie ouderdomsgroepe was die punte as volg: o.14: HJS/HMS; o.15: Paarl Gim; o.17: Paarl Gim en o.19: HJS/HMS.