Die tweede Franschhoek Kamermusiek- en Kunsfees, wat plaasvind van 23 tot 26 Februarie in Franschhoek, sal nie net ’n uitsonderlike viering van wêreldklas kuns en kamermusiek wees nie, maar feesgangers sal ook saam met van die uitgesoekte kunstenaars kan kuier.

Elf bekende visuele kunstenaars, sommige van Franschhoek, maar ook bekende kunstenaars van omliggende gebiede waarvan baie internasionale aansien het, sal hul nuutste skeppings vertoon en met die feesgangers in gesprek tree oor hul werke en dit waarmee hulle besig is.

Alisha Erasmus, feeskoördineerder, sê ’n unieke aspek van die fees is juis om feesgangers ’n intieme ervaring te bied deurdat daar interaksie met die musici en kunstenaars tussen konserte sal wees.

Die elf konserte is juis oor die vier dae geskeduleer sodat feesgangers ook die kunsuitstallings sonder tydsdruk kan besoek, tyd met van die kunstenaars en musici kan deurbring en kan gaan inloer by vele van die attraksies op die dorp.

Leerders van Bridge House se werk sal ook uitgestal word.

Vir die volledige program en besonderhede van kunstenaars wat uitstal en optree, asook om kaartjies te koop, besoek www.fcmf.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article