’n Polisiebeampte wat aan die Paarl-Oos-polisie verbonde is, is einde verlede jaar skuldig bevind aan crimen injuria nadat hy rassistiese aanmerkings teenoor sy swart kollegas gemaak het.

Die voorval is in Oktober 2021 aangemeld toe die beampte die aanmerkings indirek gemaak en die K-woord gebruik het. Een van die mense wat hy geteiken het, was Paarl-Oos se stasiebevelvoerder, kol. Wellington Stephans.

Stephans het ’n formele strafregtelike klag van crimen injuria teen die betrokke beampte aangemeld. Die saak het in die Paarl-landdroshof voorgekom en die beampte wat die aanmerkings gemaak het, is op 17 November verlede jaar skuldig bevind.

Aangesien die departementele verhoor rakende die voorval nog aan die gang is, mag Stephans nie op die oomblik kommentaar lewer nie.

Paarl Post het die nuut aangestelde genl.maj. Marius Groenewald, die bevelvoerder van die Kaapse Wynland-polisiedistrik, waaronder die Paarl-Oos-polisie val, genader vir kommentaar. Groenewald sê hy sal nie enige diskriminasie – rassisme ingesluit – duld as dit in die Kaapse Wynland-distrik kop uitsteek nie.

“Enige vorm van diskriminasie en / of vooroordeel deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens word deur die leierskap van die organisasie aan die kaak gestel. Soos gespesifiseer in die SAPD se gedragskode en ander interne voorskrifte, is SAPD-amptenare verplig om hulle te weerhou van dade van diskriminasie van watter vorm ook al.

“Indien ’n SAPD-lid betrokke raak by sulke spesifieke dade van benadeling of bevind word dat hy of sy deur optrede en/of uitlatings die SAPD-voorskrifte oor diskriminasie oortree het, sal interne tugstappe ingestel word. Waar situasies dit regverdig, sal strafregtelike klagte teen die betrokke lid of lede aanhangig gemaak word.”

Groenewald herinner ook die gemeenskap dat daar sterk gevolge in terme van die Suid-Afrikaanse Grondwet is as gemeenskapslede enigsins diskrimineer of rassistiese aanmerkings teenoor polisielede maak.

“Polisiebeamptes en gemeenskapslede (in samewerking met die polisie) word op deurlopende grondslag, of soos die behoefte ontstaan, teen dade van diskriminasie gewaarsku.”

  • A police officer attached to the Paarl East police was found guilty of crimen injuria at the end of last year after he made racist remarks towards some of his black colleagues.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article