Personeel van die munisipaliteit werk Vrydag aan ’n ondergrondse waterpyp wat gebars het.


Inwoners van die lanein Paarl, in die omgewing van Devine- en Patriotstraat asook die Bergrivier Boulevard, was Vrydag ure lank sonder water nadat nog ’n ondergrondse munisipale waterpyp gebars het.

Die gemeenskap hier het reeds vroegoggend wakker geword met geen water in hul pype nie.

En hulle moes vir die res van die dag sien en kom klaar sonder ’n druppel water in hul krane.

Louis Pienaar, waarnemende direkteur: ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het verduidelik dat die ligging van die gebarste pyp naby ’n belangrike elektriese substasie in die Boulevard is en dus moes die munisipaliteit eers bepaal presies waar die elektriese kabels loop voordat hulle met die waterpyp se herstelwerk kon begin – “in die belang van veiligheid en om enige beserings te verhoed”.

Om dinge nog verder te vererger werk die toerusting wat hulle gebruik om die elektriese kabels uit te wys met elektrisiteit, en die herstelwerk aan die gebarste pyp het tydens beurtkrag begin.

Dus kon hulle eers met werk begin en hierdie toerusting gebruik toe die krag weer aangeskakel word.

Die herstelwerk self moes met die hand gedoen word, wat verder die proses vertraag het. Die gebruik van masjinerie was nie ’n opsie nie, weens die groot hoeveelheid kragkabels en ander dienste in daardie omgewing.

Pienaar sê voorts dat die waterpype in hierdie gedeelte van Drakenstein baie oud is en vervang moet word. Dié betrokke netwerk vorm deel van hul jaarlikse pypvervangingsprogram waarvolgens pype wat gereeld bars geprioritiseer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article