Die afgelope Saterdag het die span van Young Peoples, die Tiere, Worcester Victorian ’n behoorlike krieketles in hul Boland-promosieliga-wedstryd in hul agterplaas op die Esselenpark-sportterrein geleer.
Die Tiere, wat deur Vics gevra is om eerste te kolf nadat Vics die loot gewen het, het uit die staanspoor die boulers van Vics na alle uithoeke van die veld gemoker. Hier moet melding gemaak word van Lorenzo Jacobs (49) en Reduwaan Louw (27) nadat hulle ’n stewige 41-lopie-vennootskap bymekaargesit het. Die Tiere het in die sesde beurt twee paaltjies verloor toe Louw en Bradwin Hollenbach (0) met twee agtereenvolgende balle uitgehaal is. Jade Adams (87), Young Peoples se kaptein, het hom by Jacobs aangesluit en dié twee het die kastaiings uit die vuur gekrap met ’n 84-lopie-vennootskap om die wedstryd by Victorians af te rokkel.
Jacobs het sy paaltjie in die 26ste boulbeurt (26.5 balle) verloor, waarna die middelorde- en laerordekolwers lustig kon houe speel. Die Tiere, wat baie meer lopies sou kon aanteken as die skeidsregters akkurate besluite gemaak het met foutballe wat op skouerhoogte geboul is en die foutbal dan kon straf, was so effens gefrustreerd en moes tevrede wees met 220/9 in hul toegelate 50 boulbeurte.
Met die aanvang van die tweede kolfbeurt het die Tiere se boulers dit nie vir Victorians maklik gemaak nie. Hier moet Jade Adams, die kaptein en speler van die wedstryd, uitgesonder word vir sy venynige blitsballe wat die Vics-kolwers heeltemal ontsenu het. Adams het 3/17 in ses boulbeurte geneem. Hy is goed ondersteun deur Zemile Adams (3/22 in agt beurte) en Lorenzo Jacobs (3/11 in vier). Vics is in die 19de boulbeurt vir ’n skamele 50 lopies uitgeboender, wat ’n waardevolle bonuspunt vir die span vir Young Peoples besorg het.
Op die oomblik is die stryd vir promosie na Krieket-Boland se premierliga ’n regte katgeveg.
Die Stellenbosch-krieketklub lê tans eerste en kan nie ingehaal word nie.
Young Peoples is tweede, met die Bergrivier-kieketklub wat tans met twee punte agter Young Peoples in die derde plek is. ’n Opwindende laaste drie weke se krieket word verwag, wanneer Young Peoples en Bergrivier sake om die oorblywende promosieliga-plek sal uitspook.
Bergrivier pak Stellenbosch hierdie Saterdag (25 Februarie) en die manne van Young Peoples sal die wedstryd fyn dophou om te sien wat hulle ná hul loslootjie moet doen om tot die promosieliga bevorder te word.




