Met die somer wat einde se kant toe staan, kan besoekers die volmaan op Saterdag 4 Maart by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) op die Paarlberg van nader bekyk.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek gewy aan die Oesmaan, aangesien die oes van verskeie somergrane in Maart in volle gang is. Somergrane is ook in hierdie tyd deur inheemse mense in ’n redelik groot gedeelte van prekoloniale Suid-Afrika geoes, lank voordat enige van die ander, nuwer gewasse bekend gestel is.

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument besigtig.

’n Gratis begeleide toer vind om 18:30 plaas. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Genoeg veilige parkering is gratis beskikbaar.

Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by Die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings by die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ’n flits.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van Laat ons Lees!, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders. Derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.

Toegang kos R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders, en gratis vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by https://cfah.org.za.

. Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article