Die onoorwonne Boland Kavaliers het die Border Bulldogs in ’n drieë-feeswedstryd in die Boland Rugby-stadion in Wellington getroef.
Die Kavaliers het die Bulldogs Saterdag (25 Februarie) in ’n Currie-beker eersteliga-wedstryd met ’n sege van 57-6 verslaan en nege drieë in die proses ingeryg.
Cornell Engelbrecht en die plaasvervanger Cameron Hufke het albei ’n driekuns drieë behaal.
Die span van Franzel September (afrigter) was vroeg in beheer van die wedstryd en het reeds in die vierde minuut die voortou geneem. ’n Goeie rolmaalbeweging deur die voorspelers het tot Emile Booysen (haker) se drie gelei. Onmiddellik daarna het die regtervleuel, Dillon Maart, vir sy span se tweede drie afgerond, wat deur die losskakel, Darian Hock, verdoel is.
Met nege minute speeltyd in die eerste helfte oor het die groot voorryspeler Andrew Beerwinkel die veld met ’n besering verlaat. Hy is deur Nicholas Duhla vervang.
’n Goeie agterlynbeweging het Cornell se eerste drie opgelewer met ses minute speeltyd in die eerste helfte oor.
Hanteerfoute en swak oordeel tussen die voor- en agterspelers het verhoed dat Boland meer punte in die eerste helfte opstapel. Die rustydtelling was 19-6 in die guns van Boland.
Met die begin van die tweede helfte is Boland se onder-kaptein, Lunathi Nxele, vir tien minute koelkas toe gestuur, maar die span het steeds met veertien spelers op die veld van rat verwissel en ’n verdere ses drieë aangeteken.
Keenan Opperman se drie was ’n juweel toe sy span ’n aanval uit hul eie gebied van stapel gestuur het.
Franzel het nie geskroom om sy diepte te toets deur al sy plaasvervangers speelkans te gee nie. By tye het die Kavaliers hoërisiko- rugby gespeel met verskeie bewegings wat skipbreuk gely het. Vir die Kavas het Peter-John Smith uithalerspel gelewer. Die kaptein, Thurlow Marsh en Keenan Opperman, Gerrit Bester, Andries Beerwinkel en Darian Hock kan tevrede voel met hul vertonings.
September sê sy span is beter voorberei as verlede seisoen, maar hy het gewaarsku Saterdag (4 Maart) wag hul grootste toets in die Boland-stadion wanneer hulle teen die Oostelike Provinsie kragte meet.
Puntemakers:
Boland, drieë: Emile Booysen, Dillon Maart, Keenan Opperman, Cornell Engelbrecht (3), Cameron Hufke (3).. Die Kavaliers speel hierdie naweek (Saterdag 4 Maart) teen die OP-Olifante in ’n tweestryd bo-aan die punteleer op tuisbodem met ’n oorwinning wat ’n plek in die eindronde van die kompetisie sal verseker. Die afskop is om 16:00 in die Boland-stadion in Wellington. Toegang beloop R30 vir volwassenes en R10 vir kinders.





