Bennie van Rooi is weer as die president van Boland-rugby verkies.Foto: Charl Williams

Credit: SYSTEM

Bennie van Rooi en Willie Small staan weer aan die stuur van sake by die Boland-rugbyunie – tot 2027.

Van Rooi is Saterdag (25 Februarie) op Kleinplasie in Worcester as die president van Boland-rugby verkies. Hy is oorspronklik in 2021 as president aangewys nadat hy in die plek van die oorlede Ivan Pekeur waargeneem het.

Van Rooi het sy regstreekse kandidaat, Bertram Vraagom, met 135 teenoor 76 stemme uitgestof.

Van Rooi is ’n boorling van Ashton en een van dertien kinders van wie sewe nog leef.

Toe Paarl Post Van Rooi verlede Dinsdag (21 Februarie) pols oor sy kanse om as Bolandrugby se president herverkies te word, het hy gesê geen sittende president het nog verloor nie.

“Sonder om arrogant te klink, gee ek myself ’n agt uit tien kans.”

Van Rooi het aan Paarl Post genoem hy vergader Saterdag (4 Maart) met die nuutverkose bestuur en sal daarna met die koerant praat oor die uitrol van alle planne vir die Boland-rugbyunie.

Advokaat Willie Small, vise-president van Boland-rugby en ’n boorling van Wellington, het sy regstreekse kandidaat Tom Persens met 148 teenoor 64 stemme geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article