Die Hugenote het Kaap toe gevaar in skepe soortgelyk aan dié een, ’n “spiegelretourschip”. Hierdie een is spesiaal gebou vir die 2007- Nederlandse fliek De scheepsjongens van Bontekoe.Foto:


Paul Roux is omstreeks 1665 in Orange naby Avignon in Suidoos-Frankryk gebore. 20 jaar later is dié dorpie se vorstelike paleis in opdrag van die sonkoning Lodewyk XIV tot op die grond afgebreek en alle plaaslike Protestante uitgedryf of vermoor.

Eerder as om hom tot die Rooms-Katolisisme te bekeer of hom tot lydsaamheid oor te gee, besluit Roux om uit sy land pad te gee. Dít is geen geringe taak nie, want om die bloedlustiges te ontwyk moet hy en sy metgeselle meestal in die donker vlug.

Eers ná drie jaar, op Saterdag 20 Maart 1688, kan hy aan boord van ’n skip in Nederland klim om sy reis na vryheid voort te sit. Wat sou die Calvinis Paul Roux dink toe hy vier en ’n half maande later by Kaap die Goeie Hoop aan wal stap en ’n klein nedersetting aantref wat maar uit ’n paar honderd inwoners bestaan? As hy sy oë opslaan na die uitstrekkende, massiewe Tafelberg en Markus 13:14 hier ter sprake vind – dat dié wat die gruwel van die verwoesting sien na die berge moet vlug – sal hy éérs so dink by die aangesig van die veel meer majestueuse bergstapels wat die Bergriviervallei omsoom.

Want dit is die plek waarheen hy en sy groep geloofsgenote in Oktober 1688 deur die gesagvoerder, Simon van der Stel, gelei is om te gaan woon en die grond te bewerk tot eer van die Here XVII. Die vlugtelinge kon min of meer self kies waar hulle wou nesskop, maar mettertyd is die lappies grond behoorlik uitgemeet in sowat 50 ha elk, geleë al langs die bolope van die Bergrivier van Oliphantshoek (later Franschhoek) vir sowat 40 km noord-noordweswaarts verby Babylonstoren en Paarlberg tot by Limietvallei aan die voet van die Hawekwaberge en Groenberg – die uiterste einders en dus eerste grensgebied van die Kaapkolonie.

Hulle het skeepsbeskuit, ertjies en soutvleis ontvang, terwyl Van der Stel ook 200 skape, 120 trek­osse en 20 verse bewillig het. Voorts is die mees basiese boumateriaal soos houtplanke vir die nuwe intrekkers aangery met waens, sodat hulle ter aanvang noodskuilings teen die elemente en ongediertes kon oprig. In die moderne idioom sou dié strukture niks anders as plakkershutte gewees het nie.

Tolk en skoolmeester

Die gebied het breedweg as Drakenstein bekend gestaan, deur die befaamde historikus George Theal só beskryf: “In the river great numbers of hippopotami were seen; on the mountain side herds of zebras were browsing; and trampling down the grass were many rhinoceroses.”

Aan die voet van die granietgebergte genaamd “Pêrel” en “Diamant” langs die Bergrivier het Roux hom weldra tuisgemaak. Gou tel hy in die guns van die bewindhebbers, want op Maandag 8 November 1688 stel die Politieke Raad in die Kaap onder voorsitterskap van Van der Stel Roux vanweë sy “goede getuijgenissen” hom aan as voorleser en skoolmeester in die Franse taal, waarvoor hy 15 guldes per maand verdien plus drie reale vir kosgeld. Tot sy voordeel het ook getel dat hy ewe goed belese in Hollands was – hy kon dus as tolk optree tussen Franssprekende Hugenote en die 23 “Dietse” families wat reeds die jaar vantevore grond van die Kompanjie in die vallei ontvang het.

Soos te verwagte het die Franse en Nederlanders met hul verskillende Romaanse en Germaanse geaardhede en kultuuragtergrond nie altyd goed oor die weg gekom nie. Onder die Nederlanders was daar diegene wat gesê het hulle sal eerder brood aan ’n Hottentot of ’n hond gee as aan ’n Fransman.

Die Hugenote het vroeg al hul lot by die owerheid bekla: dat die grond wat hulle bekom het soveel klippe, rotse en seekoeigate bevat dat slegs klein gedeeltes bewerkbaar was. Hout was skaars en omdat hulle nie waens het nie, moes hulle lang ente swaar vragte op die rug dra. Van der Stel se aanvanklike geduld en toegewendheid het ten laaste opgedroog toe hy verklaar dat die Hugenote onder die dekmantel van godsdiens Kaap toe gekom het om “een luij en vaddig” lewe te lei en dat hulle nes die Jode deur Gods hand met kos uit die hemel gevoer terugverlang na die vleispotte van Egipte.

Vader van vele

Roux trou in 1689 in Kaapstad met Claudine Seugnet, die oudste van drie Franse tienermeisies wat Kaap toe vertrek het presies twee weke nadat Roux reeds die suidpunt bereik het. Die oorvaart moes vir hulle wat reeds albei ouers in Europa aan die dood afgestaan het, ’n nagmerrie wees, want by hul aankoms in die Kaap in Januarie 1689 was daar 37 sterfgevalle en 104 siekes op die seilskip.

Claudine is 18 of 19 jaar oud toe die egpaar se eersteling, Paul Roux, gebore word. In die sewe jaar van 1692 tot 1699 word nog ses kinders gebore.

Buiten Paul bring net nog twee ’n nageslag voort: die naasoudste seun, Pierre Roux – wat trou met Susanna de Villiers, oudste dogter van die jongste van drie De Villiers-stamvaders, Jacques – en die naasoudste dogter, Hester Roux, wat op haar beurt trou met Pierre de Villiers, die oudste seun en genant van die oudste De Villiers-stamvader, Pierre. Broer en suster se onderskeie gades is dus niggie en neef, ’n ondertrouery wat broer Paul selfs in groter mate met die Joubert-, Blignaut- en Rousseau-families laat voortstu het.

Te midde van al die huwelikspret bly die lewe in die Bergriviervallei gevaarlik en onseker. Die naaste landdros en heemrade sit ver weg op Stellenbosch, vier uur se ry te perd, terwyl die naaste Kompanjie-vesting net ’n hooimakerspos met skure, ’n huis en stalle by De Clapmuts, 15 km weg op pad Kasteel toe, is.

Die grootste bron van kwelling en onrus is plunderende inboorlinge. Die Ubiquas “Bossiemans”, wat deur die Khoi “moordenaars” genoem is, het hulle verset teen die eerste intrekkers deur bosse af te brand sodat hulle ’n makliker weg deur die vallei kon baan om te gaan roof en/of te moor. Die Politieke Raad het al op 26 Januarie 1688 besluit om Drakensteinse koloniste teen dié gevaar te waarsku, maar die opdrag word ook gegee – veelseggend in die lig van die Hugenote wat op pad was – om die Ubiquas met “vuur en swaard te vervolgen en te verdelgen”.

Die oorspronklike bewoners is egter allermins uitgewis, want namate wit mense stadig maar seker die Bergrivier oorgesteek en hulle in Wagenmakersvallei en in die Land van Waveren noord- en ooswaarts gevestig het, het die bloedvergieting bloot verder weg van die aanvanklike nedersetting voortgeduur. Beeste van die vryburgers is met gereelde tussenposes gesteel, waarop vergeldingspatrollies lede van rowerbendes links en regs doodgeskiet het.

As gevolg van die wit oorname van die Khoi-San se jag- en weidingsgebiede in die Drakensteinvallei was daar so vroeg as 1705 al geen Khoi-krale meer langs die Bergrivier nie en is die piëtistiese Paul Roux die gesig gespaar om op ’n Khoi-troue af te kom en te sien hoe die bruid stringe bebloede binnegoed van ’n geslagte vetstertskaap as ’n liefdesgebaar om haar bruidegom se nek hang, terwyl swymelende bruilofsgaste al in die rondte dans.

Nee, hy hou hom eerder besig met skool- of kerksake, en natuurlik – bevolkingsaanwas. Sy voorlaaste seun is Jeremias Roux, wat later kortstondig by die gemeente betrokke raak as koster en voorleser in Frans “wanneer ‘t hem te passe kwam” en hy verstaanbaar deur die kerkraad afgedank word.

Krankbesoeker en koster

Paul Roux het ’n doopregister in Frans vir die Drakenstein-gemeente aangehou. Hy het sy eie idees oor spelling gehad en het dikwels name of vanne foneties uitgeskryf, waarskynlik omdat die betrokkenes analfabete was. Hoewel hy na homself as lecteur et chantre verwys het, skryf hy sy naam en van in die doopregister net met kleinletters; die Snymans is afwisselend Senayment, Senaiman of Scniman; Schalk Willem van der Merwe is vir hom Eskal Wellems van de Merúvan, terwyl Stellenbosch Stellenboses is.

As voorleser moet hy Sondag ná Sondag die een hoofstuk ná die ander uit die Bybel voorlees, afgewissel met gemeentesang waarby hy ook as voorsanger optree. Saans doen hy die aandgebed en gee leiding in die saamsing van verse by die lig van kerse wat deur die Kompanjie verskaf is. Hy is ook diaken en koster, maar veral sieketrooster of “krankbesoeker”.– Vervolg op bladsy 13.– Volg van bladsy 12.

Sieketroosters het in vergelyking met ander amptenare ’n karige salaris verdien en is dikwels bespot met terme soos “krank- en drankbezoekers” of “onbesneden idioten”. Klaarblyklik moes hulle mense uit alle lae van die samelewing wat in ’n onomkeerbare verknorsing of doodsangs verkeer het, laastens tot hulp wees, soos ’n slavin voordat sy in ’n sak toegebind en verdrink is omdat sy haar baba vermoor het, of ’n gedrosde slaaf wie se regterhand eers afgekap is voordat hy deur die skerpregter verwurg is.

Roux het namens die Drakenstein-gemeente jare lank vergeefs by die owerheid om beter geriewe gesoebat. In ’n skrywe wat op 21 Maart 1713 voor die Politieke Raad in Kaapstad dien, mopper die kerkraad dat daar nog geen kerkgebou is nie en ses jaar lank geen leraar nie. Die lidmate plus hul kinders het al aangegroei tot ’n paar honderd, maar is “van dagen tot dagen verwildert en verwoelt, en zou dat nog zo voortgaat eijndelijk tot Hottentots schijne te vervallen”.

Die kerkraad betreur voorts die feit dat daar geen begraafplaas is nie. Die laaste rusplek van oorledenes word soms deur “wilde gediertes” opgegrawe en die wens word uitgespreek om “volgens de gewoonte van alle de Christenen” behoorlik ter aarde bestel te word.

Eers meer as vyf jaar later, op 6 September 1718, vind ’n seremoniële steenlegging plaas by dieselfde perseel waarop die Strooidakkerk in Hoofstraat vandag staan. Die kerk word eers in 1720 in gebruik geneem, hoewel vensters nog makeer. Daar is voorts nie genoeg banke vir vroue nie, dus word die susters gevra om hul eie stoele saam te bring.

‘Kerkraasvergaderings’

Intussen het Roux aangegaan met sy veelvuldige verpligtinge wat ook die invordering van skuld en die ondertekening van kerkraadsvergaderings behels, of “kerkraasvergaderings”, soos Adam Tas smalend daarna verwys.

Om sy inkomste aan te vul tree hy voorts as begrafnisondernemer of aanspreker op, ’n taak wat nie vreemd was vir sieketroosters of kosters van die tyd nie. Volgens Hugenote-gebruik is ’n spieël voor die sterfling gehou om seker te maak die persoon is wel dood, waarna die mond en die oë toegemaak is. Al die vensters en deure in die oorledene se huis is oopgemaak sodat dié se siel ongehinderd kan uitgaan.

Draers by begrafnisse moes wit handskoene dra en lanferlint om hul hoofbedekking. Vir die begrafnis van ene Suzanne de Vos is Roux se rekening 23 guldes vir sy diens en die uitverhuring van ’n doodskleed. Sy is begrawe in die omstrede onomheinde begraafplaas, maar daarna word ’n breë, diep sloot om die gebied gegrawe om ongediertes uit te hou en Roux is 12 guldes per maand betaal om dit in stand te hou. Om vas te stel of die kerkraad nie oordryf het met hul klagtes oor die opgrawe van lyke deur ongediertes nie, het ’n ondersoek getoon dat in die tydperk van 1702 tot 1710 altesaam 112 tiere (luiperds), 87 wolwe (hiënas) en 45 leeus in Drakenstein/Stellenbosch van kant gemaak is.

’n Merkwaardige geskrif van Paul Roux het eers in 1973 aan die lig gekom, Belydenis des Geloofs. Net soos die Bybel deur ’n horde outeurs geskryf is lank ná die gebeure wat hulle beskryf al verby was, is hierdie werk van Roux ná sy dood oorgeskryf, nugter weet deur wie almal. Moderne optekenaars verwys tereg na die stuk as ’n katkisasieboek, die vroegste een ooit in die land. Die datum op die titelblad is 18 Mei 1743, dekades ná sy dood en ’n aanduiding dat die jeug van Drakenstein sy bediening lewend bly hou het.

Doodsklokke lui

Volgens ’n dokument in die teenswoordige Ou Pastorie-museum in die Paarl het Roux ’n stuk grond van twee morg 250 vierkant roede (2,3 ha) aangrensende aan die kerk ontvang, maar geleë aan Paarlberg se kant van die wapad, in die omgewing van die huidige Jacquesstraat agter die stadsaal. Roux het sy eiendom paslik Orange gedoop, maar ná sy dood het sy seun Jeremias dit net sewe jaar besit voordat hy dit verkoop het en die eiendom daarna herhaaldelik van hand verwissel en nog later onderverdeel is, totdat daar aan die Hoofstraat-gedeelte vandag ’n skitterende McDonald’s pryk.

Roux se vrou, Claudine, sterf in 1717 toe sy 46 is; vyf jaar later is hy 57 en sy sewe kinders lankal mondig toe hy hertrou met Elisabeth Couvret, ’n weduwee met tien kinders tussen vier en 20 jaar. Helaas, kort daarna sterf hy op 7 Februarie 1723, en daarmee saam lui die doodsklok ook vir die gebruik van sy moedertaal in die Kolonie, want ná ’n era wat 35 jaar geduur het, is daar voortaan geen onderwys óf kerkdienste meer in Frans nie.

Slegs ’n paar dosyn bejaardes het oorgebly wat uitsluitlik Franssprekend was, en teen 1783 het die reisiger François le Vaillant nog net een grysaard teëgekom wat hoegenaamd Frans kon praat.

Hoe hard die Franse ook al in die loop van ’n eeu teen die gedwonge agteruitgaan van hul taal vasgeskop het, het hulle noodgedwonge Nederlands- en later Afrikaanssprekend geword. Vandag het ’n klompie plase egter steeds Franse name: ’n bewys dat die ryk Hugenote-erfenis wat landwyd sou uitkring juis in dié vallei wortel geskiet het.

. Botha is ’n skrywer van Hermanus. Sy ouma aan vaderskant, Frena Roux, is ’n sesdegeslag-afstammeling van Paul Roux. Dié is ’n verkorte verwerking van die Roux-genealogie uit ’n omvattende manuskrip van onder meer die Roux-Botha-verbintenis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article