Ek ry daagliks deur die middedorp van die Paarl, Bergrivier Boulevard langs, na Wellington. En dit is absoluut skokkend om te sien hoe absoluut wetteloos mense ry.
Eerstens praat ek van die taxi’s. In spitstye (soggens en smiddae) sal ’n mens dink hulle regeer die pad.
Nie een stop by die Lady Greystraat-kruising vir ’n rooi verkeerslig nie en ry mense wat by die groen verkeerslig wil oorry, omtrent van die pad af.
Hulle jaag teen ’n geweldige spoed en sweef soos maniakke heen en weer tussen motors deur.
Dan, by die aansluiting met Optenhorst, ry hulle in die baan wat slegs vir motoriste is wat reguit in die rigting van die Honey Dew-landgoed wil ry, maar dan draai hulle onwettig regs in Optenhorst. Motoriste wat in die regte baan is om te draai, word omtrent van die pad af gery.
Hierdie is ’n tydbom wat wag om te ontplof.
Die ergste is egter, in al die jare wat ek so soggens en smiddae ry, sien ek DALK een keer per maand ’n verkeersbeampte op die pad, maar dan is hy net op pad iewers heen en hou hom blind vir al die onwettige optredes op die pad.
Dit is ’n skreiende skande dat die Drakenstein-munisipaliteit ’n algeheel onbevoegde verkeersafdeling het met beamptes wat hulle glad nie aan wettelose gedrag op ons paaie steur nie – soveel so dat al meer motoriste eenvoudig die padreëls verontagsaam, want hulle weet hulle gaan nie uitgevang word nie.
Word die verkeershoof in die Paarl ooit op grond van hierdie stand van sake beoordeel? Indien dit ek of iemand in my maatskappy was wat so slapgat is, sou ons baie vinnig onder prestasiebestuur geplaas en waarskynlik ook in die pad gesteek word.
Met ons paaie wat weens die baie ontwikkelings in die gebied ook baie besiger raak, sou ek dink die munisipaliteit sal sy kamstige stad van uitmuntendheid só bestuur en ons paaie ’n beter plek vir almal maak.




