Na aanleiding van ’n SMS in verlede week se Paarl Post wil ek graag die volgende noem:

Ek ken nie die voorval waarvan die skrywer praat nie, maar wat ek wel meer en meer sien, is dat ouers hulle dikwels blind staar teen hul kinders se foute.

Ouers dink verskonings uit hoekom hul kinders se onbeskofte gedrag aanvaarbaar is. As kind het ons altyd in die pad tennis gespeel en dikwels die bal in een van die bure se erf ingeslaan. Ons het dan later maar net ’n ander bal gesoek om mee te speel of ons wedstryd het net daar geëindig, want sou ons vir ons ouers elke keer moes sê wanneer ons ’n bal in die bure se erf geslaan het, het ons slae gekry. Ek het dalk destyds gedink dit is onregverdig, maar vandag as ’n volwassene besef ek wat ’n steurnis dit moes wees as kinders elke keer sou kom klop om hul tennisbal of iets te vra. Wat sou gebeur het as ons ’n ruit uitslaan? Wie sou die kostes daarvan dra?

Kinders hou nie daarvan om gestraf te word wanneer hulle verkeerd doen nie, maar jy doen jou kind in die langtermyn meer skade as goed. My oorlede ouma het altyd gesê jy moenie jou kind “voorpraat” nie. ’n Tydjie terug sien ek ’n inskrywing op Facebook van ’n ma wat haar kind, wat deur die polisie in verband met ’n misdaad gesoek is, weggesteek en elke keer vir die polisie gejok het wanneer hulle by haar deur op soek na hom kom klop het.

Ons doen ons kinders meer skade as goed wanneer ons hulle nie reghelp wanneer hulle verkeerd gedoen het nie.

Wanneer jou kind by die huis kom kla dat die juffrou volgens hom te streng is of dat sy met hulle raas, hoe reageer jy? Wys jy vir jou kind dat jy respek vir die juffrou se gesag het sodat hy dit ook moet hê, of begin jy al die juffrou uitskel sonder dat jy ’n dag in haar skoene gestaan het?

Kinders kla altyd as hulle nie kan doen wat hulle wil nie, maar ons as ouers moet onsself die volgende vra: Watse soort grootmense maak ons groot? Watse soort drome het ons vir ons kinders? Of verkies sommige maar net om nie meer hul ouerskap ernstig op te neem nie?

Jy as ouer beïnvloed jou kind se denkwyse. Wees ’n verantwoordelike ouer, die cool-ouer-fase verdwyn en dan soek jou kind na die ouer wat hy vertrou, wat standaarde het, op wie hulle ook – wanneer hulle groot is – trots kan wees.


Gayle,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article