Foto ter illustrasie.Foto: Pexels


’n Verdagte is verlede week in hegtenis geneem nadat ’n parate Groenvlei-inwoner in die Paarl hom op heterdaad betrap het in ’n poging om by sy motor in te breek.

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, het die voorval bevestig.

“ ’n Op-en-wakker huiseienaar in die Groenvlei-omgewing het tot die inhegtenisneming van ’n verdagte, Romeo Ferreira, weens ’n poging om by ’n voertuig in te breek, gelei.”

Du Plessis sê dat die klaer se honde alarm gemaak het oor beweging buite op die werf.

“Hy het toe ondersoek ingestel en het die verdagte met ’n stel motorsleutels betrap. Dit het gelyk asof die verdagte probeer het om ’n voertuig op sy perseel oop te sluit. Die man het op die verdagte geskree en hy het gevlug.”

Die man het die verdagte gevolg en aan die polisie uitgewys waar die man probeer het om by ’n winkelkompleks in die omgewing weg te kruip.

Ferreira het verlede Maandag (6 Maart) in die Paarl-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article