Groot vrees heers onder inwoners dat hulle nou ’n maklike teiken van misdaad sal word nadat die verkeersligte by die Orleanslaan- en Van der Stelstraat-kruising in Paarl-Oos oorkant Chicago verwyder is en stoptekens aangebring is.
Die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, Louis Pienaar, sê egter hulle was genoodsaak om die stoptekens as gevolg van deurlopende vandalisme en diefstal aan te bring.
“Die verkeersligte by die Orleanslaan- en Van der Stelstraat-kruising is verwyder as gevolg van volgehoue vandalisme en diefstal. Stoptekens is daar geplaas om verkeer op ’n formele manier te reguleer.”
Die verkeersligte by die kruising was reeds ’n tyd lank buite werking voordat die nuwe padtekens aangebring is.
Die Paarl-Oos polisie doen ook gereeld ’n beroep op motoriste om versigtig te wees wanneer hulle saans Van der Stelstraat en die gebied naby die Orleanslaan-kruising gebruik omdat dit as gevolg van kragkabels wat tydens beurtkrag gesteel is, nie goed belig is nie. Die gebied is ook voorheen deur die polisie as ’n brandpunt vir misdaad bestempel.
“Die Drakenstein-munisipaliteit is tans besig om die straatligte in Van der Stelstraat – van Jan van Riebeeck-weg tot Klein Drakenstein-weg – te herstel. Enkele gedeeltes werk steeds en ons beplan om die nodige herstelwerk teen die einde van Maart vanjaar te voltooi,” verduidelik Pienaar.




