Anders as in ander munisipaliteite in die land blyk dit dat inwoners in Drakenstein wel getrou hul munisipale skuld betaal.
Die tesourie het verlede week in sy jongste verslag oor die finansies van plaaslike regerings landwyd uitgewys dat verbruikers – huishoudings, ondernemings én ander verbruikers, soos regeringsdepartemente – van die land se 257 munisipaliteite nou altesame R305,8 miljard vir erfbelasting en dienste soos krag, water en riolering skuld.
Volgens Bradley Brown, die finansiële hoof van Drakenstein-munisipaliteit, is Drakenstein se betalingskoers hoër as die nasionale norm (96,4% teenoor 95,0%) en skuld word in Drakenstein slegs in uitsonderlike gevalle afgeskryf.
“Drakenstein Munisipaliteit oorweeg die afskryf van skuld slegs in gevalle waar skuld om een of ander rede nie invorderbaar is nie – of waar die uiteindelike regskoste wat aangegaan moet word om die skuld in te vorder gelyk aan of groter is as wat die uitstaande skuld mag beloop,” verduidelik Brown.
Hy sê in die geval waar skuld wel afgeskryf word, vind dit plaas kragtens die munisipaliteit se kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleide.
“Byvoorbeeld, in die geval van insolvente boedels en onopspoorbare debiteure word skuld afgeskryf.
“In ag genome die huidige ekonomiese klimaat asook die negatiewe impak van beurtkrag op nywerhede en besighede, is die raad nie gekant teen afbetalingsooreenkomste nie – en kom ons belastingbetalers en besighede tegemoet waar moontlik,” het Brown gesê.
Hy verduidelik verder dat in die geval waar verbruikers agterstallig raak met hul dienstebetalings, kan hulle elektrisiteit aankoop, maar sulke aankope word gedeeltelik beperk tot ’n persentasie.
Wanneer so ’n verbruiker R100 se elektrisiteit aankoop, kan 50% byvoorbeeld aangewend word vir elektrisiteitseenhede (krag). Die ander 50% kan dan byvoorbeeld gebruik word om oorblywende diensteskuld te vereffen (soos water, riool, eiendomsbelasting en vullisverwydering).
Alle diensterekeninge moet teen die 15de van elke maand betaal word.
“Die betaaldatum kan egter ongelukkig nie verskuif word nie; net soos wat ander ondernemings betaaldatums het om na te kom, so het die munisipaliteit ook sperdatums wat nagekom moet word,” sê Brown.




