Groot skade is Maandagoggend aan Totalsports in Lady Greystraat aangerig toe ’n motorbestuurder na bewering agter die stuur aan die slaap geraak het.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die bestuurder van ’n Toyota Fortuner het glo in die oggendure van Maandag 20 Maart agter die stuurwiel aan die slaap geraak en in ’n oogwink het die voertuig deur die Totalsports-winkel in Lady Greystraat in die Paarl-middedorp gejaag.

Die woordvoerder van Paarl-polisie, kapt. Louise du Plessis, sê ’n ondersoek na die omstandighede van dié voorval duur voort.

“ ’n Wit Toyota Fortuner het Maandagoggend omstreeks 03:00 na bewering reguit by ’n bekende sportwinkel in Lady Greystraat ingery.”

Du Plessis vertel dat die bestuurder alleen in die voertuig was en dat hy glo agter die stuurwiel aan die slaap was toe Paarl-Oos-polisiebeamptes aan sy venster klop.

“Sy voertuig het op die hoek van Hoof- en Lady Greystraat by ’n groen verkeerslig stilgestaan. Dit was toe die polisiemanne ondersoek ingestel het. Die bestuurder het toe só groot geskrik dat hy na bewering die winkel binnegejaag het.”

Groot skade is aan die winkel se vertoonvensters aangerig waarvan stukke glas die voer­tuig en sypaadjie bedek het met die voertuig se neus binne-in die winkel.

Sy het bygevoeg dat daar die naweek van 17 tot 19 Maart verskeie ongelukke weens roe­kelose en nalatige bestuur was.

“In ’n onverwante voorval verlede Vrydag om 01:00 het ’n veiligheidswag ’n harde geluid tydens sy skof aan diens by ’n perseel van ’n busvervoer-maatskappy in Van der Merwestraat ondersoek.”

Die veiligheidswag het ’n gryskleurige bakkie gesien wat van die toneel wegry nadat dit teen die omheining van die perseel gebots het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article