Tevrede met die uitkoms van hul vergadering glimlag Dalene Rademeyer, Ethne Butler (Paarl Homeless Cats), Lisinda Lubbe, inspekteur Neil Visser (Paarl-DBV), Mieke Batelaan, Cheryl van der Walt (Drakenstein Animal Rescue), Wendy Hardie (diereliefhebber) en Bonita Denton (PRO).Foto: Verskaf


’n Vergadering is Vrydag (24 Maart) deur die Drakenstein-vallei se top-diereverenigings en organisasies gehou met die doel om uiteenlopende frustrasies hok te slaan en elke organisasie se funksie om diere in die Paarl te beskerm duidelik te maak.

Die vergadering is deur die voorsitter en lede van die Paarl-dierebeskermings­vereniging (DBV), sowel as lede van Paarl Rescue Obsessed (PRO), Drakenstein Animal Rescue en Paarl Homeless Cats bygewoon.

Bonita Denton van PRO glo dat “die vergadering positief afgeloop het” en dat “konsensus bereik is”.

Die fokuspunt was om te bepaal presies hoe elke organisasie in sy afsonderlike dienste of hoedanigheid funksioneer. Gesprekke het ook gefokus op hoe daar met die Drakenstein-munisipaliteit en sy inwoners saamgewerk kan word om die al groter wordende probleme van verdwaalde diere, diereverwaarlosing en -mishandeling in die vallei te bekamp.

“Die besprekings Vrydag was ’n goeie geleentheid vir elke dierewelsyn­organi­sasie om deurlopende frustrasies onder mekaar te opper en te bespreek.

“Elkeen van ons is op soek na positiewe maniere om samewerking vorentoe te verbeter,” lui ’n verslag wat die vergadering opsom.

’n Paar punte is bespreek, waaronder dat dit nie altyd vir die publiek duidelik is hoe dié verskillende dierewelsynorganisasies se mandaat funksioneer nie en “dat dit al by vorige geleenthede tot misverstande gelei het”.

Christo Francke, Paarl-DBV se voorsitter, verduidelik dat om een tak van ’n nasionale organisasie soos die DBV te wees, vereis om aan sekere voorwaardes en standaarde van hoofkantoor te voldoen.

“Alhoewel besprekings Vrydag goed afgeloop het, moes die DBV dit duidelik stel dat alle ooreenkomste eers bevestig mag word nadat samesprekings met die munisipaliteit en DBV-hoofkantoor afgehandel is.”

Francke meen die vergadering was meer daarop geskoei dat alle kommunikasieveldtogte onder die verskillende diere-organisasies op plaaslike platforms in die vervolg meer doeltreffend gekoördineer word.

“Die fokus moet bly op die soort boodskap of diens wat deur elke organisasie gedeel word om die publiek wyser te maak oor hoe hulle ons elkeen in ons afsonderlike mandate kan ondersteun of kontak om plaaslike diere te beskerm,” sê Francke.

In gesprekke is te alle tye sterk beklemtoon dat daar ’n strewe na sterk, koöperatiewe en positiewe verhoudings onder mekaar heers.

“Ons is bly ons kon om een tafel sit om onduidelikhede uit die weg te ruim en sodoende konflik onder ons in die toekoms te vermy,” sê Drakenstein Animal Rescue se Cheryl van der Walt.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article