Vroue van Women On Farms Project (WFP) maak deel uit van ’n optog Woensdag 22 Maart deur die Paarl se strate. Bo is hulle in Lady Greystraat in die Paarl-middedorp. Foto: Heleen Rossouw


Paarl Post het verlede Woensdagmiddag die toi-toiende skare van sowat 150 landelike werkers van Women On Farms Project (WFP) sien plakkate swaai, onderweg na die departement van arbeid se kantoor in die Paarl.

Die optog was deel van die bekendstelling van WFP se onafhanklike navorsing oor die lewens- en werksomstandighede op Fairtrade-gesertifiseerde wynplase.

“Die navorsing illustreer dat, hoewel billike handel-standaarde die lewensbestaan van baie plaaswerkers op gesertifiseerde plase verbeter het en hul reputasie vir die handhawing van die ‘goue standaard’ vir werkersregte (in stand hou), baie van hierdie plase steeds nie voldoen aan die minimum vereistes wat in Suid-Afrika se arbeidswet voorgeskryf word nie,” aldus WFP se Facebook-blad.

Die studie is in opdrag van WFP saamgestel deur die onafhanklike navorser Celeste Fortuin wat onderhoude met 50 vroue op 18 Fairtrade-gesertifiseerde plase gevoer het.

Die navorsing is oor verskeie Fairtrade-gesertifiseerde wynplase in die Kaapse Wynlande uitgevoer waarin bevind is dat die werk- en lewensomstandighede by sommige van hierdie plase nie voldoen aan die standaarde wat Fairtrade International stel nie.

Volgens WFP se woordvoerder, Denile Samuel, het die nuwe navorsing bevind dat sommige plaaswerkers op dié wynplase steeds swak behuising en ’n gebrek aan toegang tot water en toilette het.

Die studie het verskeie kommerwekkende punte geopper wat die volgende insluit:

  • 25% van plase het “swak” of “baie swak” behuising vir werkers;
  • 31% van werkers verdien minder as die nasionale minimumloon van R25,42 per uur;
  • 54% van die vroue wat ondervra is, word gereeld of tuis aan plaagdoders in die wingerde blootgestel. Dit strook nie met internasionale beste praktyk nie; en
  • 35% van vrouewerkers wat ondervra is, het nie toegang tot toiletgeriewe in die wingerde waar hulle heeldag werk nie.

Volgens die aanlyn nuuswebtuiste Groundup is Fairtrade-gesertifiseerde plase veronderstel om internasionale standaarde vir billike werksomstandighede te handhaaf, waaronder betaling van die minimumloon, die reg op kollektiewe bedinging en voldoende behuising.

Boere wat gesertifiseer is kan hul gewasse gewoonlik teen ’n hoër prys uitvoer. Die premie wat op Fairtrade-gesertifiseerde produkte betaal word, is veronderstel om in ’n aparte rekening gehou en gebruik te word om die omstandighede van werkers en boere te verbeter.

Samuel sê die aksie van WFP volg ná voortdurende arbeidswetsoortredings op sommige plase in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit.

“Die optog het daaroor gegaan om bewusmaking te kweek en ’n memorandum aan die departement van arbeid te oorhandig. In die memorandum het ons geëis dat ’n vergadering met die minister van dié departement in April sal geskied.”

WFP glo dat plaaswerkers ten minste die nasionale minimumloon betaal moet word.

“ ’n Minimumloon is nie goed genoeg nie. Vroue het grond nodig vir sekuriteit om hul gesinne te voed om die siklus van ongelykheid te breek. WFP staan vir ’n lewende loon wat fokus op toegang tot grond, gehalte-onderwys en gesondheidsorg bo geldwaarde.”

Hulle wil hê die departement van arbeid moet gereeld inspeksies op plase doen sonder om eers die plaaseienaars in kennis te stel, en hulle wil hê dat vroulike seisoenale plaaswerkers by dié inspeksies ingesluit moet word.

WFP vereis ook dat alle plaaswerkers ná so ’n inspeksie van die uitslag ingelig word, en waar die plase arbeidswette oortree het, wil hulle hê dat eienaars binne 30 dae regstellende stappe moet doen of opskorting van verkope in die gesig staar.

Departement van arbeid erken ontvangs

Die departement het op die dag van die oorhandiging ontvangs van WFP se memorandum erken.

Die hoofdirekteur van provinsiale bedrywighede in die Wes-Kaap, Mawele Ntamo, sê die departement doen verskillende soorte inspeksies om nakoming te bepaal. Die een behels reaktiewe inspeksies waar beëdigde verklarings as klagtes oor spesifieke aangeleenthede van werknemers tot die departement hanteer word.

“Indien verontagsaming opgemerk word, word die sake na wetstoepassingsagentskappe verwys vir aanbeveling vir vervolging. Ons proaktiewe inspeksies is gewoonlik in die vorm van sektorspesifieke projekte in ’n spesifieke gebied. ’n Omvattende verslag word ná die finalisering van só ’n projek opgestel, waarna die departement dan verontagsaming hanteer op dieselfde wyse as hierbo beskryf.”

Ntamo wys daarop dat meer as 400 inspeksies gedurende hierdie boekjaar in die Drakenstein-vallei uitgevoer is.

“Ons inspekteurs is sigbaar en enige klagte wat by ons Paarl-kantoor ingedien is, is ondersoek. Ons wette bevat strawwe vir wetsoortredings en is geïnkorporeer in die aanbevelings wat deur wetstoepassingsagentskappe gemaak word.”

Dit sluit in die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (CCMA), nasionale vervolgingsgesag en arbeidshof. Hierdie agentskappe besluit oor die bedrae wat betaalbaar is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article