Instandhoudingswerk word dié week by die Drakenstein-krematorium in die Paarl voltooi nadat die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sy atmosferiese ondersoeke hier afgehandel het.
Johann van der Merwe, eienaar van die krematorium, het die gerugte dat hy sy deure gaan sluit as onwaar bestempel. Hulle het egter nie enige verassings die afgelope paar weke gedoen nie as gevolg van die opknappings wat gedoen moes word.
“Sover ek weet is daar geen dreigemente dat ons oor drie weke gaan toemaak nie. Dit is vals nuus. Die wanbegrip het dalk ontstaan omdat ons nie op die oomblik liggame inneem nie omdat ons besig is met instandhouding. Ons het eers die branders vervang, toe het ons toeters ingesit wat as die temperatuur onder 850 grade daal, ’n geluid sal maak,” verduidelik Van der Merwe.
“Daar was toe ’n versoek van KWDM dat ons ’n deurlopende temperatuurmeter moet insit en dit moes uit Amerika gekom het.
“Ons gooi ook vir die oond nou ’n nuwe vloer en ons het ook die deur van die oond herstel sodat dit yskoud is, want dit koel nie af nie omdat dit 24 uur per dag en sewe dae per week werk. Ons moes toe nou ’n wagperiode verkry sodat die mense aan die deure kan werk. So ja, ons is teoreties gesproke tydelik gesluit, maar nie toegemaak nie.
“Hierdie week is die derde week en ons hoop om dié week klaar te wees met die instandhouding. Ons weet dit plaas al die yskaste onder druk, maar toe ons begin het met die opknappings, het ons besluit om sommer ’n ordentlike job doen.”
Die krematorium is die afgelope paar maande in die spervuur nadat gerugte ontstaan het dat die besigheid verantwoordelik is vir ’n stank wat oor die Paarl en Wellington gehang het.
Die klagtes van inwoners het onder die aandag van KWDM se luggehalte-beampte gekom, wat toe ondersoek ingestel het, het die woordvoerder van die distriksmunisipaliteit, Jo-Anne Otto, voorheen aan Paarl Post gesê. Onlangs het KWDM bevind dat daar nie-nakomings van die krematorium se atmosferiese-emissie-lisensievoorwaardes is.
“Daar is vasgestel dat daar ’n voorval die aand van Saterdag 7 Januarie omstreeks 22:00 was. Daar is toe ook bevind dat die verbinding aan ’n termokoppel, wat die handhawing van optimum temperatuur verseker, foutief was. Die foutiewe verbinding het veroorsaak dat die primêre verassingslokaal afskakel, wat tot die vrylating van oormatige rook gelei het.”
Van der Merwe meen die krematorium is onskuldig wat die gerugte betref wat die ronde doen. Volgens hom het die fasiliteit gereelde inspeksies ondergaan toe hy beskuldig is van die stank.
“Die eerste paar weke in Januarie het ons drie keer per week in die dag inspeksies gekry en twee keer in die nag. Ons het nie tydens een van die inspeksies stink reuke uitgesit nie. Ons het twee of drie keer wel rook uitgesit, maar dit was as gevolg van ’n wanfunksie en die ander voorval is waar een van die werkers ’n kis ingesit het voordat die oond nog op temperatuur was. Dit was ’n menslike fout, maar andersins is ons nie skuldig nie.”
Hopelik nadat die instandhoudingswerk afgehandel is, sal die krematorium spoedig weer sy werksaamhede voortsit.
Otto voeg by: “Die KWDM het die Drakenstein-krematorium versoek om normale verassingsbedrywighede te staak tot die fasiliteit kan bewys dat hy aan die lisensievoorwaardes voldoen.”. Maintenance work is being completed at the Drakenstein crematorium in Paarl this week after the Cape Winelands District Municipality completed their atmospheric investigations at the facility.





