Met verlede week se gure weer wat die vallei getref het, lyk dit asof winter vinniger as in ander jare nou reeds op pad is.
Behalwe vir die donderstorms en dae aanmekaar se reën, het erge rukwinde nie net boomtakke geknak nie, maar ook dakplate van verskeie woonstelle in Paarl-Oos afgewaai.
“Die Drakenstein-munisipaliteit kan bevestig dat huurders van munisipale woonstelle klagtes aangemeld het van dakplate wat afgewaai het of tydens die swaar reënval beskadig is. Dié huurders woon in die Springbok-, Magnolia-, Bougainvillea-, en Solomon-woonstelle, sowel as in Azalia- en Poinsettiastrate,” het Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, gesê.
Volgens Esau is van die herstelwerk reeds voltooi terwyl die munisipaliteit se instandhoudingspan besig is om so spoedig moontlik die res van die skade te herstel.. Lees op bladsy 4 oor die nuutste reënvalsyfers.




