Een van die dae is dit weer Paasfees en daarmee hand aan hand, veral hier in die Kaap, beteken dit kerrie- of pekelvistyd.
Hierdie gereg geniet sy ontstaan te danke aan slawe wat na die Kaap gebring is. Hierdie geregte het met ’n kombinasie van Oosterse speserye ’n absolute lekkerny geword.
Min mense ken die ware geskiedenis. Die meeste kenners is dit eens dat die kerrievis-etery op Goeie Vrydag van die Rooms-Katolieke Kerk kom, maar oor die jare so ver-Kaaps het dat dit nou oor geloofsgrense heen strek.
Die storie loop ook so dat die vis simbolies is van hierdie godsdienstige tydperk omdat dit verbind word met Jesus as die Visser van mense. Talle gelowiges glo ook dat dit onheilig is om Vrydae vleis te eet. Sekere tradisies glo weer dat niemand op Goeie Vrydag mag werk nie – ook nie mag kos maak nie.
Daarom moes Paasgeregte voor die tyd berei word.
In vroeër dae moes vis gedroog of gepekel word om bewaar te word, aangesien yskaste toentertyd nog nie bestaan het nie.
Wat ook al die rede vir hierdie wonderlike tradisie is, ek is baie dankbaar daarvoor en maak jaarliks my eie in dié tydperk.
Dis vir my ’n baie mooi en spesiale tradisie wat ons hier in die Kaap het – om kerrievis in die Paastyd te eet.
Die vissermanne roep jou langs die pad met hul vrag snoek wat nou so mooi loop en vertel dat dit net die regte ding is om kerrievis mee te maak.
Vir heerlike ingelegde vis benodig ’n mens vis met ’n stewige tekstuur, soos geelstert of snoek. Kabeljou is ook nommerpas.
Die baie grate in snoek pla my wel, dus verkies ek ’n lekker groot geelstert.
Die geliefde en bekende kosmaker van Wellington, Retha Rix, is ’n ou hand wanneer dit kom by die maak van hierdie geliefde Paasfeesmaal.
Retha sê daar is vir seker ’n verskil tussen die plaasmanier en hoe gesoute kerrievismakers uit die Boland dit maak.
“Ek het in New Orleans skoolgehou en toe sê mnr. Latief vir my ‘julle kan nie kerrie maak nie’ en hy is seker daarvan!”
By onderstaande resep kan jy gerus jou wonderpeperkorrels en ’n bietjie masala bysit om jou eie identiteit aan die gereg te verleen. Dit maak vir ’n heerlike kerrievis.
Ek gebruik al die jare hierdie resep uit Kook en Geniet – soos aan moederskoot geleer daar in die Hantam. Ek hou daarvan om die vismootjies bietjie in die meel te rol, dit maak die braai in die olie minder skadelik vir die vis.
Kerrievis (‘Kook en geniet’)
Bestanddele:
2 kg vismootjies, in meel gerol
sout en peper
Metode:
Sout en peper die vismootjies, rol in meel en braai in ’n bietjie kookolie in die pan.Bestanddele vir die kerriesous:
4 uie, in ringe gesny
½ k suiker (en meer, na smaak)
3 eetlepels kerriepoeier
1 eetlepel borrie
3 k asyn
½ k water
6 gekneusde suurlemoenblare
Vir die sous
Meng die bestanddele en kook vir 20 minute.
Onthou om dit nie in ’n metaalbak te laat staan nie, want dit kan met die asyn reageer en die smaak beïnvloed.
Giet die warm sous en uie oor die gebakte vis.
Vind jou eie resep
Daar is beslis verskillende resepte om van te kies om jou kerrievis te maak, maar na my gesprekke met verskillede kokke glo ek dat elkeen hul eie metode vind om die kerrievis te maak waarvan hulle hou. Wat wel seker is, is dat kerrievis die beste gepaard gaan met heerlike warm paasbolletjies, hetsy tuisgemaak of dié wat jy koop. Deesdae is daar verskeie opsies om van te kies en te keur!





