Kunsmatige Intelligensie is die nuwe gonswoord wat wêreldwyd opvlam en mense aan die praat het.

Credit: jpmyburg

Kunsmatige Intelligensie (KI) is die nuwe gonswoord wat wêreldwyd opvlam en mense aan die praat het.

Toepassings soos ChatGPT en BingChat is verlede jaar vrygestel en verander die tegnologiese landskap by die dag.

ChatGPT is ’n toepassing wat deur OpenAI gebou en geskryf is. Deur die GPT-taalmodel te gebruik, kan dit jou vrae beantwoord, inhoud skryf, e-posse opstel, ’n gesprek voer, webkode in verskillende programmeertale verduidelik, natuurlike taal na webkode vertaal, en meer – alles geskoei op die gesprek wat jy met die toepassing voer.

Dr. Antoinette van der Merwe, senior direkteur: leer- en onderrigverryking by die Universiteit Stellenbosch, het bevestig dat KI hier is om te bly en dat studente dit al hoe meer gaan gebruik namate dit verbeter.

Sy het die “veg-of-vlug”-reaksie beskryf wat baie akademiese inrigtings in reaksie op ChatGPT het. Sy het opgemerk dat sommige universiteite reeds hierdie tegnologie verbied het.

“Ander sal probeer om dit te probeer uitoorlê of dit probeer ‘uitvang’ en probeer om beter opsporingsagteware in werking te stel. Ek dink dit is ’n natuurlike reaksie op hierdie opskudding. Studente vandag moet voorbereid wees op ’n toekoms waarin skryf met KI reeds besig is om noodsaaklik te word. Net soos woordverwerkingfunksies soos spel- en taaltoetsers aanvaarbaar geword en by skryfpraktyke geïntegreer is, gaan dieselfde met teksskeppers gebeur. Ek redeneer dus ons moet onderrig, leer en assessering heroorweeg, herdink en herfokus sodat ons ons gegradueerdes met die nodige vaardighede kan toerus om verantwoordelik met KI om te gaan,” het Van der Merwe gesê.

Die ChatGPT-verskynsel is deur die nuutaangestelde voorsitter van die departement joernalistiek, prof. Herman Wasserman, bekend gestel. Hy het sommige van die etiese dilemmas aangeraak waaraan die gewilde, nuwe kunsmatige intelligensietegnologie die media en die akademiese landskap blootstel.

Netelige vrae wat met plagiaat, privaatheid, sensuur, regverdigheid en KI se invloed op ongelykheid verband hou, is ook deur deelnemers geopper.

“Hoewel dit ietwat van ’n cliché is dat ons studente oplei vir beroepe wat nog nie bestaan nie, is dit skrikwekkend waar wanneer ons in ag neem dat die joernalistiekstudente wat vanmiddag hier sit, miskien aanstaande jaar, wanneer hulle tot die werksmark toetree, met persverklarings te doen sal kry wat deur ’n kletsbot uitgeryg is wat nie verlede jaar hierdie tyd bestaan het nie,” het Wasserman opgemerk.

Hul meen ook dat hierdie nie net ’n uitdaging by universiteite gaan voortbring nie, maar in verskeie bedrywe.

Prof. Bruce Watson van die sentrum vir KI-navorsing in die skool vir datawetenskap en rekenaardenke – wat homself ’n KI-optimis noem – het verduidelik hoe die KI agter ChatGPT werk. Volgens hom is dit moeilik om die uitwerking wat ChatGPT op ons alledaagse lewe gaan hê te oordryf.

“Maar dit is belangrik om te onthou dit is nie ’n wese met bewussyn nie en het ook geen hoop om te wees nie. Dit is net ’n massiewe model wat kan voorspel wat die volgende woord moet wees op grond van wat dit geleer het. Dit het geen gevoelens, oorspronklike gedagtes of kapasiteit vir outentieke terugvoer nie. Maar die implikasie is steeds enorm. KI is reeds buitengewoon vaardig in die skryf van kort grepe en in die skep van werkende programme en skadelike programmatuur soos rekenaarvirusse.”

Twee navorsers van Research ICT Africa, dr. Scott Timcke en Zara Schroeder, het saam ’n aanbieding gedoen oor die implikasies van KI vir ’n land soos Suid-Afrika waar ongelykheid en ekonomiese uitsluiting steeds groot hindernisse is.

“Geen tegnologiese produk is neutraal nie,” het Timcke opgemerk.

Hoewel KI die potensiaal het om ’n instrument te wees wat bekostigbare opvoedkundige, mediese en regsinligting en advies aan die armes kan verskaf, sal die maksimalisering van wins waarskynlik sosiale beskerming troef, het hy gesê. Die keersy van sulke tegnologiese vooruitgang is dat slegs ryk mense in die toekoms dalk toegang tot menslike spesialiste sal kan hê, terwyl armes op masjiengegenereerde kundigheid sal moet staatmaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article