“Van perde leer ons dalk nie net van die perd self nie, maar ook van diere in die algemeen, oor onsself en oor die lewe as geheel.”

Só het George Gaylord Simpson, ’n Amerikaanse paleontoloog, as deel van navorsing in sy veld gesê.

Talle ruiters sing dikwels dieselfde deuntjie oor perde, wat aansluit by Simpson se aanhaling, en dit is dat perde dikwels vir hul ruiters net so baie van hulself leer soos wat die ruiters van hulle leer.

Perde word daagliks geleer hoe om stil te staan en geduldig te wees, of wanneer om te stap of te draf of selfs hoe om hierdie vaardighede aan te leer, maar saam met die perd leer sy eienaar ook.

Geduld moet toegepas word om enige dier dissipline te leer, maar so ook vir perde. ’n Ongeduldige mens gaan nie ver kom nie, en so iemand se perd gaan nooit wees soos wat die eienaar hom wil hê nie.

Talle ruiters sal ook saamstem dissipline en ’n goeie roetine gaan hand aan hand met geduld, en dit is nog twee aspekte wat ’n mens in ’n werksomgewing of jou persoonlike lewe sal help.

Dit is soms moeilik om soggens op te staan en die dag met dissipline aan te pak en dalk voor die werksdag jou afskop te gaan oefen, die koerant te lees of middagete vir werk voor te berei.

Perde leer ’n mens hierdie vaardigheid vinniger aan, want sonder dit kan die ruiter en sy perd ook nie uitblink nie.

Huisdiere bring vir vele mense genot, en so ook perde. ’n Band kan met hulle gevorm word, en net soos die ruiter die perd se persoonlikheid leer ken, weet die perd ook presies wie sy ruiter is en wanneer so iemand ’n goeie of ’n slegte dag beleef.

Die les wat hierdeur geleer kan word, is die beste manier om resultate uit ’n perd te kry, is om sag, dog ferm, te wees.

Baie mense staan dikwels met die verkeerde voet uit die kooi op, en dan gaan die dag meer skeefloop indien aggressie oorwin.

Die perd kan dalk net vir sy ruiter “ ’n pak slae” gee weens sy eie frustrasie, en so ook die res van die samelewing indien die ruiter aggressief voorkom.

Deur tyd op ’n perd se rug en aan sy sy deur te bring, leer ’n mens ook vrese oorkom, soos om te galop, te spring vir die eerste keer, op bergroetes te loop of bloots te ry.

Wanneer daardie mylpale behaal word en vrese oorkom word, groei jy as ’n ruiter en as mens. Dan glo ’n mens meer in jouself en weet jy ook hoe om sekere situasies te hanteer, wat jou in ruiterkuns en in ander sfere van die lewe help.

Nog ’n belangrike aspek wat ’n mens leer deur perd te ry, is om met grasie op te staan wanneer jy val.

Ruiters val gereeld van ’n perd af, en partykeer is dit seer en ander tye minder erg, maar meestal is dit eintlik net ’n verleentheid.

Dit is belangrik om op te staan, jou klere af te stof en te lag oor dit wat gebeur het eerder as om as kwaad en geïrriteerd te raak.

Só is dit ook belangrik in jou persoonlike lewe en werksomgewing om die dag ná ’n harde val sonder te veel emosie aan te pak, want dit wys dat jy grasie en stamina het.

Perde – net soos huisdiere – is spesiale maats en kan ook hul eienaars inlig oor hulself indien die eienaar dit toelaat en aanvaar.

’n Hond is ’n mens se beste vriend, maar so ook ’n perd met sy fluweelagtige hare, sielvolle oë en sagte hart, en wanneer ’n perd kies om sy hart vir sy ruiter oop te maak, sal dit ’n nuwe wêreld laat oopgaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article