As dit waar is dat die hemel eintlik op aarde is, sien ek mense wat hier op aarde leef asof hulle in die hemel is. Hierdie is die mense wie se linkerhand om goeie redes nie weet wat hul regterhand doen nie. Hulle is so deel van die alledaagse en vloei so in ons lewens in dat dit eintlik hartverskeurend is dat daar so min ag op hulle geslaan word.
Hulle is die kruisdraers, dié wat nader hardloop om te help as almal wegkyk. Hulle is die uitdelers, die Jesajas van die lewe, dié wat alles weggee en self met niks oorbly nie. Ondankbare werk word impulsief gedoen waar die behoefte is. As hulle twee truie het, sal hulle een in ’n oogwink weggee. Geen kostes word eers bereken nie. Vir ons is tien truie nie genoeg om ’n yskoue hart warm te maak nie, maar ons gee niks weg nie, want ons is bang. Selfs al weet jy die hitte waarna jy smag, lê verskuil in ’n enkele trui. Dit is ’n hitte wat nie kunsmatig veroorsaak word nie, maar ’n hitte wat kan troos bied vir ’n hart lank reeds begrawe onder al die saamgesleepte smarte van jare.
Allerliefste kom soos ’n warrelwind die huis in, op soek na die suikermeter aangesien die man in ons woonstelblok “nie lekker” is nie. Ek vra later hoeveel die suikerlesing was. Allerliefste kyk my aan met waterige oë en sê: “Sy hande is so vol eelte dat die naald nie kon deurgaan nie.” Ek stap om die gebou. Hy sit op sy hurke, rug kromgetrek en woel in die grond met ’n waterpas. Hy kyk op toe hy my sien en groet met ’n breë glimlag. Sy hare is vaal van die stof en sy lippe uitgedroog met klein barsies. Dis reeds laat skemer. Hy is kaalvoet. Hy is besig om plek te maak vir die houtkruis wat langs hom lê, asook die twee verweerde houtvoete wat voor die kruis neersitplek moet kry. ’n Visdammetjie met vissies is simbolies om ons te help onthou dat ons geroepe, toegeruste hengelaars is. Sy aardse tuin van Eden is sy gelukkigste plek. Hy inspireer jou om jou visstok te neem en die vis vir die dag te vang.
Dan is daar die Klaras in ons lewe. Klara wat op 45 nog ’n agtjarige se klere dra. Sy is ’n alkoholsindroom-kind-vrou met ’n hart wat die kwaad nie toereken nie. Sy wag soms in die oggend teen die pad vir my wanneer ek haar suster oplaai om die dag vir my te kom help. Sy lag tandeloos en waai opgewonde, want sy weet ek het ’n ietsie vir haar. Net een lekkertjie is genoeg vir die kind in haar.
Wanneer haar suster nie daar is om ’n buffer teen die ander te wees nie, word sy gevra om bondels en bondels wasgoed te was. Kinderhande wat naderhand vol blase is, maar sy hou nie op tot al die wasgoed op die draad hang nie. Eet nie, drink nie, was net wasgoed.
Soms stuur hulle haar kliniek toe om namens hulle pille te gaan haal, ’n kliniek wat 5 km ver is, maar sy staan vroeg op en begin stap in die donker. Vrees vir wat haar moontlik aangedoen kan word, oordink sy nie, want sy glo dat almal goed is. Wanneer sy laatmiddag moeg en honger by die huis kom, gee hulle haar ’n sigaret vir betaling. Sy kla nie, want sy weet nie sy word eintlik uitgebuit nie. Dan gaan haal sy hout sodat haar suster kan kos maak, want iemand het gesê die krag gaan af. Hulle lag dan agter hul hande, want hulle weet hulle gaan die hout vir 50c by haar koop.
Ek noem hierdie soort mense “hart-nerfaf”-mense. Die labirint van hul lewe is maklik. Hul opstaan soggens eenvoudig en sonder fieterjasies, gister weggebêre. Wanneer gaan ons leer om ons naaste ook so onvoorwaardelik te dien sonder kosteberekening? Ons wag vir ’n groot wonderwerk en die klein wonderwerke wat daagliks voor ons afspeel, dié sien ons nie raak nie. Hierdie mense se hart word beskerm met twee groot Hande as erkenning vir hul uitbundige en onbevange uitdeel van liefde. Hul hart is nerfaf en kry selde meer skade as net dit.
Hulle is ook die gelukkigste mense. Hulle is vriendelik en lag baie. Hulle het kennis van ’n diepe vreugde wat hulle daagliks uitleef en ons kan maar net afgunstige toeskouers wees. Vergifnis is nie net ’n woord vir hulle nie en jy staan beskaamd wanneer volwaardige vergifnis so maklik aangebied word. Hul bedoelinge is goed in ’n wêreld waarin hulle voorbeelde skep van hoe ’n mens eintlik met jou medemens moet omgaan, maar ons blindheid is ons ondergang. Nerfaf harte weet wat ons ander vergeet: God sorg vir die mossies, hoeveel te meer vir ons, dis hoekom hul harte heel bly!




