Die Drakenstein intermediêre sorgfasiliteit, voorheen bekend as Luthando, is een van ’n paar intermediêre sorgfasiliteite in die Wes-Kaap wat binnekort sy deure sal sluit.
Sandra Maritz, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid in die Kaapse Wynlanddistrik, sê verskeie nie-regeringsorganisasies wat intermediêre dienste bied word deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand op kontrakbasis gefinansier volgens ’n aansoek- en keuringsproses. Die dienste wat die organisasies lewer moet ooreenstem met die dienste wat in die gebied vir ’n spesifieke tydperk benodig word.
“Die departement is besig om die model aan te pas waarvolgens intermediêre dienste gebied word om seker te maak die diens werk so doeltreffend moontlik.”
Met die sluiting van Luthando, sê Maritz, kan die gemeenskap gerus wees omdat die departement sal verseker dat daar nie ’n onderbreking in versorgingsdienste sal wees nie.
“Mense wat tydelike ondersteuning nodig het nadat hulle uit die hospitaal ontslaan is, sal steeds gehelp word. Ons sal meer inligting deel sodra die planne oor hoe ons die dienste integreer in ’n meer gevorderde stadium is.”
’n Vasgestelde datum van wanneer die sorgfasiliteit amptelik sal sluit, is nog nie beskikbaar nie.
Maritz voeg by wanneer die fasiliteit sluit, sal die plaaslike klinieke pasiënte verwys na intermediêre sorgeenhede indien nodig. Inwoners van Drakenstein kan ook kontak maak met Kathleen Lucas, assistentbestuurder van gemeenskapsgebaseerde dienste vir die departement in die Kaapse Wynland, indien daar ’n nood vir intermediêre versorging is.
Volgens sr. Fraulein Theo, wat deel vorm van die bestuur van Luthando, is hulle nog nie ingelig oor wanneer Luthando sy deure sal sluit nie. Volgens Theo het die werknemers hier meer vrae as antwoorde.
Sy voeg by dat die departement net gesê het dat hy nie vir die werknemers van Luthando kan sê wat ná Junie gaan gebeur nie. “Vir nou hang die werkers aan ’n tak, want niemand weet wat anders om te maak nie”.
. Skakel Kathleen Lucas van gemeenskapsdienste by 023 348 8100.
. Drakenstein Intermediate Care Facility, is one of a few intermediate care facilities that will close its doors soon.



