Inwoners van die Drakenstein het nog tot Vrydag 21 April om vir Paarl in die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie te stem nadat Paarl Sondag 16 April as ’n Wes-Kaapse semifinalis in kykNET se gewilde kompetisie aangekondig is.
“Dit is sowaar ’n fantastiese prestasie en eer om benoem te word, en as die Drakenstein-munisipaliteit is ons baie opgewonde hieroor,” het Conrad Poole, die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, laat hoor.
“Die Paarl is ’n groot toerisme-aantreklikheid – ryk aan pragtige natuurskoon, uitstekende infrastruktuur en ’n verskeidenheid aanbiedinge – van avontuursport tot erfenisskatte.
“Verder is ons unieke aanbieders van uitmuntende kos-, wyn- en kunsprodukte. Die Paarl se mense is besonder gasvry, en ons bied een van die beste leefstyle in die land. Dit is sommer ’n baie lekker plek om in te woon!” het Poole gesê.
“Om as Wes-Kaapse finalis en hopelik as wenner van ’n kompetisie soos kykNET se Kwêla Dorp van die Jaar aangewys te kan word, sal ’n reuse-inspuiting in ons aktiwiteite wees om die Paarl en Drakenstein as toeriste-, sake- en beleggingsbestemming te bemark.
“Dit opsigself sal ons ekonomie versterk en help om werksgeleenthede vir ons plaaslike gemeenskappe te skep.”. Om te help dat Paarl deurdring na die volgende ronde van die kompetisie, kan inwoners die woord “Paarl” vóór 12:00 Vrydag 21 April per SMS na 33157 stuur. Een SMS is gelyk aan een stem en kos R1,50 per SMS.
Slegs 30 SMS’e per selfoonnommer word toegelaat.




