In April word die fokus jaarliks op die bewusmaking van outisme geplaas.
Paarl Post het hieroor met die plaaslike outisme-skool, Boland Skool vir Outisme, se bestuurder, Ingrid du Toit, gesels.
Du Toit verduidelik dat outisme spektrumversteuring (OSV) ’n neuro- ontwikkelingsversteuring is wat kommunikasie en gedrag affekteer.
“Alhoewel outisme op enige ouderdom gediagnoseer kan word, word dit dikwels ’n ontwikkelingsversteuring genoem omdat die simptome in die eerste twee jaar van ’n kind se lewe verskyn.”
Individue met outisme ervaar die volgende struikelblokke:
. Kommunikasie en interaksie met ander mense; en
. Beperkte belangstellings en herhalende gedragspatrone en ander simptome wat ’n persoon se vermoë belemmer om te funksioneer by die skool, die werk en ander areas van die lewe.
Sy verduidelik OSV staan bekend as ’n spektrumversteuring omdat daar ’n wye variasie is in die soort en erns van die simptome wat mense kan ervaar.
“Alhoewel outisme ’n lewenslange versteuring is, is daar verskillende behandelings en dienste wat ’n persoon met outisme se lewensgehalte kan verbeter. Vroeë intervensie is dus van kardinale belang.”
Boland Skool vir Outisme is ’n organisasie sonder winsbejag wat spesialiseer in hierdie soort vroeë intervensie. Die skool is 13 jaar gelede in die dorp gevestig en bestaan uit ’n effektiewe multidissiplinêre span wat ’n spraakterapeut, arbeidsterapeut, maatskaplike werker, opvoedkundige sielkundige en kinderkinetikus insluit.
“Die skool bied ’n outisme-spesifieke omgewing waarin gespesialiseerde opvoeding aangebied word deur opgeleide onderwysers met ’n maksimum van ses leerders per klas. Die leerders volg ’n KABV-kurrikulum,” sê Du Toit.
. Ondersteun die Boland Skool vir Outisme Saterdag 22 April om 09:00 by hul fun run op die plaas Uitkyk in Noorder-Paarl.
. Op 12 Mei hou die skool ook sy jaarlikse gholfdag by Boschenmeer en sy groot damesoggend vind op 16 September in die Paarl-stadsaal plaas. Alle ondersteuning en bydraes is altyd welkom.
. Vir meer inligting besoek hul webtuiste by www.bolandautism.org.za of kontak die skool via e-pos by bolandadmin@bolandautism.org.za of skakel 021 870 1430.



