27 April 1994 is gekenmerk deur baie lang rye Suid-Afrikaners wat vir ure by stemlokale gewag het om vir die heel eerste keer hul kruisies by die stembus te kon maak. Media24 Argieffoto:


Jaarliks op 27 April word Vryheidsdag in Suid-Afrika herdenk, ter viering van die heel eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika ná die val van die apartheidsregering en die koms van ’n nuwe president, Nelson Mandela.

Alle volwassenes van 18 jaar of ouer kon toe hul kruisies gaan trek, ongeag hul ras of kleur.

Ná die oorgangstyd is die nuwe grondwet van Suid-Afrika ook op dieselfde dag in 1997 in werking gestel.

Paarl Post het ’n paar invloedryke inwoners van Drakenstein gevra wat hulle kan onthou van hierdie baie groot dag in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Landdros Patrick Ross, die eerste bruin aanklaer in Wellington en ’n kiesbeampte op die dag

Dit was die aanbreek van ’n nuwe era – die grootste gebeurtenis in ons lewe. Om alles te kroon is ek aangestel as landdros van Wellington op 1 April 1993. Vanweë my amp is ek aangestel as die voorsittende beampte by een van die setels (stemlokale) in Wellington. Dit nogal op ’n plaas waar ons nooit welkom was nie.

Op die betrokke oggend moes ek baie vroeg opstaan – baie dinge het deur my kop gegaan. Oral kon jy polisiewaens sien.

Ek het op my eie gery na my setel waar ek vir die eerste keer die beamptes gesien het wat deel van die groot gebeurtenis was. Ek moes elke boks met stembriewe oopmaak en kontroleer.

Buite het die massa mense begin saamdrom, maar oplettend in lang rye. ’n Mens kon die afwagting op baie se gesigte sien; ander het weer net vir die ergste gevrees.

Ek kan nog onthou hoe ek almal in die saal byeengeroep en ’n kring gevorm het om ’n gebed van hoop vir die dag oor te dra.

Toe is die saal se deure oopgemaak vir stem. Ek het net ’n gevoel van kalmte ervaar toe ek die stembrief oopmaak. Tog was dit ’n belewenis – ja, net om vir die eerste keer erken te word as ’n burger en te kan stem.

Later was die saal vol van politieke waarnemers en verteenwoordigers. Ek onthou nog vir Nanna wat daar ingekom het met haar groep ondersteuners. Wonder bo wonder het hulle die dag ’n sukses gemaak deur hul teenwoordigheid.

Mense het in massas hul voorbeeld gevolg en hul kruisie kom maak.

Dit was ’n helse dag, want toe die stembus sluit, moes ons met loeiende sirenes na die stadsaal vir telling ry. Elke stembus is in my teenwoordigheid oopgemaak.

Aan die einde het alles gebalanseer – al die harde werk was nie verniet nie.

Ons stemme is gehoor – ons krete om geregtigheid was vir baie die baken van hoop.

Prof. Michael le Cordeur, medeprofessor en hoof van die Departement Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch

Ek onthou die dag soos gister. Ek was ’n jong onderwyser by Weltevrede Sekondêr. Dit was ’n mooi herfsdag. Almal was opgewonde, byna soos kinders wat vir die eerste keer teater toe gaan.

Ek moes in die Wellingtonse stadsaal gaan stem. Kiesers het reeds van vroegdag begin toustaan en ek moes ook my plek in die tou vind.

Niemand het omgegee om in die tou te staan nie. Die atmosfeer was gemoedelik in afwagting vir die geleentheid om vir die eerste keer in jou lewe te kon stem.

Al ons pogings om ’n demokratiese bestel te vestig, was nie verniet nie.

Uiteindelik kon ek ook my kruisie trek agter die kandidaat van my keuse se naam: in my geval was dit Nelson Mandela. Hoe dan anders?

Dit was ’n gegewe omdat hy so lank in die tronk was vir ons.

Die dag sal vir altyd in my geheue bly, vasgesteek as ’n hoogtepunt in my lewe. Min het ons geweet hoe dinge later sou uitdraai . . .

Horison van hoop: Marlene le roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap-teater in Kaapstad

Hoe dit voel om jou eie stembrief in te vul en in daai boksie te plaas? Dis ’n gevoel wat geen smartphone of selfie kan opneem nie.

Maar die werk wat voor daardie dag gebeur het . . . die laataande (of te wel oggende) waar ek eers vieruur in die bed geklim het en om maande lange opleidingsveldtogte te lei – dit is waar die murg van my herinneringe berus. As destydse hoof van die RDP in die noordelike voorstede was deel van my werk om mense op te lei oor waaroor die verkiesing gaan en hoe om ’n stembrief te verstaan.

Ek onthou hoe ons, op 27 April 1994, met vol busse mense van plase af vervoer het na stemlokale en weer terug huis toe. Maar 1994 was nie net oor die eerste demokratiese verkiesing nie . . . vir my was dit wat ek op mense se gesigte en in hul oë gesien het – die passie en deursettingsvermoë om hierdie land te verander.

Ek onthou die rye, rye mense vol hoop – ’n prentjie wat ek nooit ooit sal vergeet nie.

Dit is hoekom ek nog steeds op voetsoolvlak betrokke is by die bou van ons demokrasie en waarom ek daarin glo. En dit is waarom dit so belangrik is vir my om nog steeds betrokke te wees by die jeug, en by die gestremdes, by die ekonomiese bemagtiging van vroue, om daardie hoop van 27 April 1994 met die daad te ondersteun.

Ons is nog ’n jong demokrasie en ons maak baie foute, maar sodra ek ietwat begin twyfel oor ons land se toekoms, dan leef daai dag, 27 April 1994, in my voort as die rede en dryfkrag om altyd my beste vir ons land, en vir Afrika, te lewer.

Oud-Springbokrugbyspeler Schalk Burger sr.

Wel, toe hierdie dag uiteindelik aanbreek, het ek besluit ons moet dit vier!

Ek het so 12 van my beste vriende genooi om almal by my te kom potjiekos maak en in die regte gees te kom vir die stemmery.

So het ons dan kos gemaak en die stemdag gevier en gepraat oor die ou Suid-Afrika. Omtrent 16:00 die middag het ons in die lang toue gaan staan en gestem in ’n goeie luim!

Daarna het ons weer almal met ons blou stemmerkies bymekaar gekom en ’n heildronk op die nuwe Suid-Afrika, en wat dit vir ons sou inhou, gedrink!

Dwarsdeur die nag het ek elke nou en dan opgestaan om die resultate soos hulle deurgekom het te hoor en was ek bly dat ek in ’n nuwe Suid-Afrika kon woon.

Koos le Roux, speaker van die Drakenstein-munisipaliteit

My herinneringe as plaaskind, jong prokureur en pa in 1994 was een van opgewondenheid en hoop.

Ons land was op ’n slegte plek en ek het hoop gehad vir ’n nuwe kans om alle landsburgers én my uitgebreide plaasfamilie betrokke te kry vir ’n nuwe toekoms waarin my kinders ook kon deel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article