Agter elke fratsongeluk wat ’n onskuldige lewe eis, sit ’n reddingspan wat die sweet van hul voorkop of ’n traan van hul wang afvee met ’n swaar gemoed van mislukte pogings om lewens te red.
Net so voel die reddingswerkers agter die tragedie wat Maandagmiddag op die ou Lustigan-plaas in die Paarl ontvou het toe ’n kindjie van een jaar en sewe maande in ’n emmer beland en verdrink het.
“Dit bly baie erg, hoor. ’n Mens se emosies word elke slag geknou ná harde pogings om lewens waar moontlik, of selfs onmoontlik, te red.”
So vertel ’n aktiewe vrywilliger van Drakenstein-plaaswag (DFW), Kobus van Staden. Hy het die middag om sowat 14:41 ’n noodoproep ontvang en hom na die toneel, waar die kind bewusteloos gelê het, gehaas.
“Ons het maklik 20 minute lank gespook om CPR op die kind toe te pas voor die ambulans daar aangekom het. Van daar is verdere reddingspogings deur die ambulansdienste op pad hospitaal toe uitgevoer.
“Ongelukkig het die kind in die hospitaal gesterf,” sê ’n teleurgestelde Van Staden.
Hy vermoed die kindjie was moontlik te lank in die water vir ’n kardiopulmonêre-resussitasie om die kind se gevorderde toestand te beredder.
Die woordvoerder by Paarl-polisie, kapt. Louise du Plessis, het die kind se dood bevestig.
“ ’n Geregtelike doodsondersoek is van stapel gestuur oor die omstandighede wat tot die verdrinking van ’n eenjarige kind gelei het,” sê Du Plessis.
Met van die gesinslede wat tuis was, was dit volgens Van Staden ’n pure frats aangesien Chadline onskuldig buite die huis gewandel het.
“Die kind het rondgewandel en toe op die buurman se erf geëindig. Hy het vooroor in ’n emmer geval.”
Die emmer is sonder ’n deksel op die voorstoep geplaas om reënwater mee op te vang.
Die kindjie se ma, Christelene van der Merwe (20), vertel dat haar seuntjie nog een oomblik pligsgetrou aan haar sy was en gehelp het om vullis wat sy bymekaar gevee het in die drom te gooi.
“Hy het my bene nog so vasgehou en gelag en gespeel. Hy was baie gelukkig en vriendelik en dit is wat vir my vrede gee, dat hy gelukkig was toe hy sterf.”
Sy meen Chadline het op sy eie manier so mooi afskeid geneem van hul elkeen etlike minute voor sy dood. Van sy ma, ouma en oupa.
“Hy het ons gelukkig agtergelaat toe die dood hom kom verly het. Toe ons hom aantref, was hy op ’n plek waar hy nie normaalweg beweeg nie.”
Christelene meen haar kind wou bloot gaan speel en het by die buurhuis oorkant die stofpad op die plaas water ontdek.
“Hy het al sterk in die water geplons en met die hoodie wat hy aangehad het, het die kappie oor sy kop beland.”
Die baadjie se kappie was deurtrek met water en sy glo die kappie was toe te swaar vir Chadline om weer orent te kom. Van Staden glo “dit is eenvoudig ’n tragiese sameloop van omstandighede.”
Ten laaste voeg sy by: “Ek is verlig my kind was nie bebloed of vol krapmerke met sy afsterwe nie. Sy gesig was so helder soos maanskyn. Hy het blou geword op ’n paar plekke, maar sy gesig was so mooi.”
Vir die reddingswerkers agter die skerms, soos Van Staden en die DFW se Anthea Carlse wat op die voorval gereageer het, bly die impak van so tragedie egter groot.
“Dit is nou die tweede insident op die einste plaas, wat nou Sneeukop-sitrusplaas is, wat tot die lewensverlies van ’n jong kind gelei het,” sê Van Staden met verwysing na ’n onverwante voorval wat die lewe van Marcelino Tities (9) geëis het.
Dié negejarige seun is op 8 Julie verlede jaar ook dood in ’n fratsongeluk op die einste plaas nadat hy tussen ’n bakkie en ’n sleepwa wat agteraan gehak was, beland het.
Marcelino en die kindjie se huishoudings is bure van mekaar wat aparte eenhede van een woning deel.
Vir Carlse bly dit ook ’n groot slag. “Ek is normaalweg kalm op ’n toneel. ’n Mens probeer om te fokus op jou gereedheid vir ’n noodgeval en mediese behandeling.
“Maar sodra die tyding tref, besef ’n mens die omvang van die tragedie, wat traumaties bly,” vertel sy.
Tog, meen Carlse, is haar ervaring slegs ’n greintjie in vergelyking met die verlies wat ’n moederhart moet verduur.
Sy was die een wat by die hospitaal vir Christelene vertroosting gebied het toe die dokter die doodstyding bring.
DFW se bevelvoerder, Daan van Leeuwen Boomkamp, deel bewusmaking oor die tragedie wat dikwels ook deur reddingswerkers ervaar word.
“Elke reaksie op ’n toneel is ’n drama op sy eie. Diegene wat reageer en die taak neem om te probeer genees of te red moet op ’n goue bord gedra word. Welgedaan Kobus van Staden en Anthea Carlse, ons salueer julle albei dat julle jul heel beste probeer het.”





