Die munisipaliteit is baie vinnig om sy onregverdige en baie hoë eiendomswaardasies te probeer regverdig. Maar hy skram net eenvoudig van die waarheid af weg.
My huis se waardasie alleen het ná die waardasie van 2021 met ’n reuse 47% gestyg.
Ek weet van vriende by Boschenmeer wat stomgeslaan is deur massiewe stygings van meer as 50%.
Paarl se eiendomswaardasies asook die munisipale tariewe is baie hoër as dié van Stellenbosch en Kaapstad.
Die munisipaliteit voer steeds aan dat hierdie stygings regverdig is.
Wat gaan Jan Alleman doen wanneer die jongste munisipale stygings in werking tree?
Ons gaan dinge eenvoudig nie meer kan bekostig nie.
Die belastingbetaler kan eenvoudig nie meer bekostig om die meer as 50% van die inwoners van die vallei te finansier nie – asook die munisipaliteit se massiewe werksmag wat ook van die hoogste munisipale werkersalarisse in die provinsie ontvang.
Om nie te praat van die top-amptenare nie wat die room van die vallei vir hul eie sakke skep.
Ek stort ’n traan vir Drakenstein – dis nie meer so ’n lekker plek nie.




