Dié is maar een van vele foto’s wat die chaos vasvang wat op 7 Februarie op Rooiland in Magnolia uitgebreek het.Foto: Creebo’s Photography

Credit: SYSTEM

Sommige Paarliete ly steeds aan slapelose nagte nadat die chaos op Rooiland in Magnolia, Paarl-Oos, vroeg in Februarie die lewe van Keanu Samuels (28) geëis het.

Een so ’n inwoner het onlangs op die Concerned Drakenstein Residents Facebook-groep ’n plasing gemaak waarvan die inskrywing lui: “Ek lê wakker en wonder wat het ’n paar maande terug op die Rooiland gebeur. ’n Groep inwoners het die Rooiland onwettig beset deur informele wonings (hokke) op te sit. Die munisipaliteit het opgetree en die mense is verwyder.

“Dit was soos ’n oorlogsveld met bulldozers wat die hokke platgery het. Die security-maatskappy het losgebrand en geskiet op die gemeenskap wat in opstand gekom het . . . In die proses verloor ’n jong man sy lewe.”

Die nasleep van die tragedie het opnuut weer ’n klomp vrae oor die toedrag van sake by dié man geopper. Hy meen, om ’n lang storie kort te maak, die uiteinde was dat “die munisipaliteit dieselfde mense starter kits (verskaf) om weer hul hokke op die Rooiland te sit waar hulle ’n maand of twee gelede verwyder is. Die storie maak eenvoudig nie sin vir my nie,” tob dié man in sy plasing.

Hoekom was dit twee maande gelede verkeerd? Hoekom is dit nou reg?

Só wonder hy, en vermoedelik talle ander wat steeds die trauma van daai warrelwind in Magnolia ervaar.

Die direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, Gerald Esau, was weer gewillig om vrae hieroor te beantwoord.

“Vroeër vanjaar het Rooiland die teiken van onwettige grondbesetters geword. In reaksie op verskeie klagtes van die omliggende gemeenskap moes Drakenstein-munisipaliteit ingryp om die situasie te beheer.

“Rooiland is nie ’n permanente woongebied nie, alhoewel van die betrokke individue ooreengekom het om hulle op ’n geordende wyse te vestig in die gebied bekend as ‘die Dub’, wat direk langs Rooiland geleë is,” bevestig Esau opnuut.

Hy meen dit is belangrik om te verstaan dat die bou van formele behuisingstrukture of huise nie ’n munisipale funksie is nie en dat die munisipaliteit slegs as ’n agent vir die nasionale regering optree.

Esau dui daarop dat die munisipaliteit se verstedelikingsplan is om in-sito-opgradering te doen van areas waar mense woon, asook om seker te maak dat hulle basiese dienste ontvang, wat onder meer insluit toegangsroetes, vullis-verwydering en die aansluiting van water en sanitasie.

“Die munisipaliteit betreur Keanu Samuels se dood en ondersteun die Suid Afrikaanse Polisiediens se ondersoek in dié verband ten volle. Ons verstaan van die polisie dat die ondersoek in ’n gevorderde stadium is.”

Terugvoer van die Paarl-Oos-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Wellington Stephans, lui egter dat besonderhede van die voortgaande moordondersoek nog nie bekend gestel mag word nie.

Verdere navrae om die huidige stand van die ondersoek te bepaal is ook aan die Wes-Kaapse-polisie gestuur, maar teen druktyd is geen antwoord van die polisie ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article