Gewapende rowers het Vrydagmiddag (5 Mei) toegeslaan by ’n stoor van die Drakenstein-munisipaliteit in Distillerystraat in die Paarl.
Volgens ’n munisipale werker het die voorval omstreeks 16:30 afgespeel en was die rowers opsoek na kontant.
“Hulle het glo geld gesoek. Hulle het gekom om te roof, maar daar by waterwerke word daar glad nie geld aangehou nie.”
Toe die rowers nie geld op die perseel kon kry nie, het hulle een van die munisipale werkers se voertuig geneem en weg van die toneel af gejaag.
“Een van die munisipale werkers se private bakkie is gekaap. Hulle het hom beroof en die ouens is weg met die bakkie. Dit is ’n wit Chevrolet utility bakkie met ’n kap op.”
Die anonieme bron het verder bevestig dat niemand tydens die voorval seergekry het nie. Die polisie was spoedig op die toneel en is besig om die insident te ondersoek.
• Hierdie is ’n ontwikkelende storie.





