Baie dankie aan die Outsurance-puntdiensbeampte wat verlede Woensdag omstreeks 17:00 ’n taxibestuurder goed aangespreek en gedokumenteer het wat byna versuim het om in die Boulevard by die Bredastraat-aansluiting te stop toe die beampte die verkeer tot stilstand gebring het.
Hy het ook foto’s van die taxi geneem en ek sou vermoed dat hy die oortreder by die verkeersowerhede aangemeld het. Die probleem is, die munisipaliteit doen net mooi niks aan die taxi’s nie.
Ek ry elke oggend van Paarl-middedorp tot in Wellington na my werksplek en is daagliks oor die wettelose taxi’s op die pad stomgeslaan.
Hulle is absolute buffels en hulle boelie ook baie gevaarlik ander motoriste om plek te maak vir hulle. Hulle oortree as’t ware op een oggend elke liewe padreël wat bestaan. En waar is die verkeersmanne?
Die Vader alleen weet!
Maar daar is mos jare lank al gerugte dat die base binne-in die verkeersafdeling ook hul vinger in die taxibedryf-pie het, dus word daar nie teen hulle opgetree nie.
As die burgemeester en munisipale bestuurder pal Drakenstein adverteer as ’n stad van uitmuntendheid, dan moet hulle (in plaas van agter hul blink lessenaars en gemakstoele sit en koffie teug) eerder soggens en smiddae spitstyd self in hul motors klim en gaan kyk wat op ons paaie aangaan.
Ry gerus van die gryspaleis met die Bergrivier-boulevard langs na Optenhorststraat, en dan af na Van Riebeeck-weg en weer so om Lady Greystraat toe. Gaan kyk met jul eie oë na die algehele wetteloosheid van die taxibestuurders.
Lyk my die dorp behoort aan hulle!
Jan le Roux
PAARL



