Die twee verdagtes in die moordsaak van die 83-jarige Joan Joyi (née Carolissen) het verlede week en vandeesweek weer in die hof verskyn.
Die bejaarde weduwee is op 2 Desember 2020 in haar huis in Elrichesingel in Charleston Hill in Paarl-Oos vermoor.
Dit het omstreeks 22:00 die betrokke aand gebeur. Joyi se oppasser, wat saam met haar gewoon het, is glo vir haar moord aangekeer, asook ’n jong man.
Paarl Post het vroeër berig Joan en haar oppasser is in ’n beweerde huisroof oorval en vasgebind.
Die mans het toe glo die huis geplunder op soek na waardevolle goedere. Joyi is vermoedelik met ’n tou verwurg, terwyl die oppasser na bewering in die badkamer toegesluit is.
Nadat die mans gevlug het, het Joyi se oppasser glo daarin geslaag om haarself te bevry en sy het hulp ontbied.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het vroeër aan Paarl Post gesê die mans het met twee selfone, ’n platskermtelevisie en ’n naaimasjien weggekom. Hulle het na bewering in ’n voertuig van die toneel af gevlug.
Voordat Joyi afgetree het, was sy ’n verpleegster van beroep en het veral baie werk onder MIV/vigs- en TB-pasiënte gedoen.
Joyi se man is net ’n paar maande voor haar moord oorlede.
Die paartjie het nie kinders van hul eie gehad nie.
Die saak word ondersoek deur die Paarl-Oos polisie se speurafdeling.
’n Speurder wat by die ondersoek betrokke is, het aan Paarl Post bevestig dat die saak goed aan die gang is in die Wes-Kaapse hooggeregshof.
Hy verduidelik dat die saak nog baie ver van klaar is en dat nog getuienis gelewer moet word.
“Daar is baie getuies wat nog in die hof moet kom getuig.”
Volgens die speurder het albei beskuldigdes reeds in die hofsaak skuld ontken.
Die vrou wat aangekla is, is 60 jaar oud en is tans uit op borgtog.
Die jong man is 32 jaar oud en word in die Pollsmoor-gevangenis aangehou. Die saak word weer volgende week, Maandag 22 Mei, in die hooggeregshof voortgesit.
. The two suspects in the murder of Joan Joyi appeared in court last week. The court case continues next week.



