“Ek het ’n rowwe lewe as kind gehad, maar ek het nie toegelaat dat my verlede in die pad staan van wat ek in die lewe wil bereik nie.”
Só sê Charlene Elliot van Paarl nadat sy onlangs ’n gesogte toekenning van “Influential Women” ontvang het.
Charlene sê sy het ’n groot liefde vir kinders en ook ’n passie om minderbevoorregte mense – hetsy kinders of volwassenes – te help.
Sy sê ook sy moes ná ’n paar teleurstellings in haar lewe belangrike besluite neem, wat sou bepaal of sy gaan val of staande bly.
“Val was nooit ’n opsie nie, maar opstaan was vir seker.”
Charlene het in 2010 deel geword van Klapmuts Primêr, waar sy vir meer as ’n jaar sport gratis by die skool afgerig het totdat die voormalige skoolhoof, Ronald Frans, haar gekontak het om te vra of sy deel van die skool se graad R-opvoeders wil word.
“Dit is hier waar alles in my lewe begin het. Dit was nie elke dag maklik nie, want my klas was in ’n wendy house omdat daar nie ’n klaskamer vir my was nie, maar daar was baie kinders en die enigste klas wat oop was, was die wendy-klas. Ek het dit gevat en dit in ’n huis omgeskep waar die kinders kon veilig voel. Hierdie kinders het my geleer om dit wat ek het, te waardeer. Party kinders het sommer met winkelsakke skool toe gekom – dit was hul tasse. Dit het my hart in stukke gebreek, maar so graag soos ek hul omstandighede wou verander, moes ek baie vinnig besef ek kan nie. Dit was die moeilikste vir my.
“My liefde vir daardie skool sal altyd in my hart wees.”
Sy sê sy het ook baie gemeenskapswerk oor naweke gedoen, waar sy kos uitgedeel en selfs mense se huise skoongemaak het.
“Ek het ouer mense gaan versorg – hulle gebad, hul naels geknip en hul voete en hande gemasseer. Hierdie was my bietjie teruggee aan my Klapmuts-gemeenskap.”
Sy het ook in 2019 begin om slaapsakke vir hawelose mense uit plastiek en koerantpapier te maak. “Dit was ’n baie emosionele projek vir my. Net om te weet ek slaap warm maar iemand slaap buite in die koue . . .”
Charlene vertel haar pad ná sewe jaar as opvoeder by Klapmuts Primêr het tot ’n einde gekom, waarna sy vir ’n jaar en ’n half ’n onderwyser in Stellenbosch was.
“Ek het ’n pos gesien wat in die Paarl Post geadverteer is – ‘Op soek na ’n bestuurder vir opleidingsentrum in Simondium’. Ek het aansoek gedoen, maar gou besef ek vat ’n groot hap uit die appel.
“Ek was baie opgewonde toe ek die opleidingsentrum besoek, maar daar was niks – ek moes dit self inkleur.”
Die deure van die 4Simo-opleidingsentrum het op 3 November 2018 geopen. 4Simo is ’n nasorgsentrum vir kinders wat op plase woon.
Nadat nuwe eienaars die plaas waarop die sentrum geleë is, gekoop het, het die sentrum ook ’n nuwe naam gekry.
“Ons naam het intussen verander na Learningtree-nasorg en -kleuterskool. Ons het uitgebrei van 14 tot 37 kinders. Die nasorg is nou nie meer net vir die ouers op die plaas se kinders nie, maar ook vir die Simondium-gemeenskap,” vertel Charlene, wat tans die skoolhoof daar is.
Sy sê sy was in 2019 ’n “Protea of the Valley” nadat sy ’n prys wat Valcare aan vroue gee wat ’n groot rol in die gemeenskap vervul, ontvang het.
“Ek het die voorreg gehad om saam met Mr Wrestling aan ’n anti-boelieprojek te werk. Dit was ’n ongelooflike program. Ek het begin om ’n anti-boelieprogram by skole te begin, genaamd ‘I wish my teacher knew…’ Dit is waar kinders briefies skryf, dit in ’n houer gaan gooi en ek het die boks met briefies weekliks gaan haal en dit hanteer.”
Sy en ’n vriendin het ook verlede jaar die “Life of Giving”-liefdadigheidswinkel geopen.
“Deur hierdie winkel help ons meisies wat so graag hul matriekafskeid wil bywoon, maar dit nie kan bekostig nie. Ons maak seker dat hierdie droom van hulle waar word.
“Ons help ook graag vroue wat na spesiale geleenthede wil gaan, maar nie uitrustings daarvoor kan bekostig nie. Verlede jaar het ons die voorreg gehad om 22 vroue te help.”
Charlene het ’n jaar gelede haar eie fiksheidsentrum geopen om ’n bekostigbare gimnasium te begin waar mans en vroue in hul eie gesondheid kan belê.
Sy sê die onlangse toekenning wat sy as “Influential Woman of 2023” ontvang het, was vir haar ’n verrassing en ’n groot eer.
“Ek het ’n oproep in Februarie gekry en die vrou het met my begin praat en my gelukgewens en gesê iemand het my vir die prys benoem.
“Ek was so verbaas dat ek dit eers vir ’n paar dae net vir myself gehou het. Dit was vir my soos ’n Oscar-oomblik.”
Volgens Charlene is die toekenning vir ’n vrou wat ’n verskil maak in haar gemeenskap, maar ook ’n voorbeeld vir ander vroue, sodat hulle ook hul drome kan najaag.
“Dis vir my ’n voorreg om alles te kan doen – en met soveel passie. Ek glo as jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie. Ek het nog baie drome en ek weet op die regte tyd gaan baie van hulle waar word.
“Dankie aan elkeen wat in my glo en my ondersteun – dit word opreg waardeer. Dankie dat ek ’n verskil in mense se lewe kan maak – al maak ek net in een mens se lewe ’n verskil, beteken dit die wêreld vir my.”





