’n Sakeman wat in Stellenbosch en Franschhoek handel gedryf het, sê hy is deur ’n prokureur, wie se lisensie om te praktiseer opgeskort is, uit duisende rande geswendel.

Volgens Rhys van Wyk het hy ene Ben van Heerden gevra om hom te verteenwoordig in ’n dispuut met die verhuurder van die gebou waar hy sy onderneming in Stellenbosch gevestig het.

“Ek het ’n onderneming gehad wat toe al amper 15 jaar in Stellenbosch was. Toe Covid-19 ons tref, was ons natuurlik in die moeilikheid en ons het gesukkel om ons huur te betaal. Die verhuurder van die gebou het al meer en meer kwaai briewe begin skryf en ek was op soek na ’n prokureur. Iemand wat ek hier in die Paarl ken, het Ben van Heerden aanbeveel, en ek is toe na hom toe om te hoor wat ons oor die huurkontrak kan doen. Dit het alles in Julie en Augustus 2020 gebeur. My mandaat aan hom was dat hy met die verhuurder moet onderhandel sodat ons die onderneming aan die gang kan hou. Dit blyk nou hy het niks gedoen nie – die man het net geld van my geneem.

“Hy het in ’n stadium voorgegee daar was ’n skikking. Die verhuurder het toe ons onderneming uitgesit en ek is agterna gedagvaar.”

Van Wyk sê dit het alles gebeur nadat Van Heerden aan hom gesê het hy het met die verhuurder gesels en het ’n skikking onderhandel.

“Hy het gesê wat die skikkingsbedrag is en ek het die geld aan hom betaal, maar dit het nooit by die verhuurder uitgekom nie. Toe ek weer hoor, het ’n balju skielik begin om beslag te lê op goedere aangesien die verhuurder met die saak voortgegaan het en niemand het in die Paarl-landdroshof opgedaag om my te verteenwoordig nie.”

Van Wyk het eers onraad begin vermoed toe die balju by hom opdaag. Hy sê hy was baie verbaas omdat hy toe reeds die skikkingsbedrag oorbetaal het.

Kort daarna het Van Wyk uitgevind Van Heerden is lankal van die rol geskrap.

Dit is deur die regspraktykraad se senior kommunikasiebeampte, Kabelo Letebele, aan Paarl Post bevestig. Letebele sê Van Heerden se naam is op 17 November 2022 amptelik van die rol geskrap, hoofsaaklik weens sy minagting van die skorsingsbevel wat teen hom hangende was. Volgens nog ’n bron in die raad word daar vermoed dat Van Heerden in die buiteland is, aangesien hy nie ingevolge verwante ondersoeke en verhore bereik kon word, of opgedaag het nie.

“Wat ek aan hom oorbetaal het, kom op amper R300 000 te staan. Dit sluit in die regskostes en die skikkingsbedrag. As ons huur betaal het, het dit deur sy rekening gegaan vir ’n rede waaroor ek nou nog nie seker is nie. Ek is seker hy het tientalle ander slagoffers, maar die goeie nuus vir my is ek kon deur ’n bietjie te dreig en op sy simpatie te speel uiteindelik al die geld terugkry.”

Van Wyk sê hy weet van baie ander slagoffers en selfs ’n vrou wat glo oorsee is wat Van Heerden gevra het om haar pa se boedel hier in Suid-Afrika af te handel.

“Hy het regte gestudeer en hy was in ’n stadium ’n praktiserende prokureur, maar hy is geskors. Dit lyk asof hy soms as ’n finansiële raadgewer opgetree het, en soms gee hy steeds voor hy is ’n prokureur, maar hy is ’n career conman. Hy het my sakebedrywighede verwoes. Ek moes die deure van die onderneming sluit.

“Twaalf mense het hul werk in die proses verloor, want ’n probleem het ook by die Franschhoek-onderneming ingesluip en dit moes ook sluit. Die geld wat ek hom betaal het, het ek meestal teruggekry, maar die skade wat hy veroorsaak het, beloop miljoene rande.”

Van Wyk het intussen ’n klagte teen Van Heerden by die polisie aangemeld omdat hy homself as ’n prokureur voorgedoen het.. Daar is geen verwantskap tussen Ben van Heerden en enige Paarlse regsfirmas nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article